News

Abraham Kriel-kinderhuis se hande afgekap na staatsubsidie sloer

Die Abraham Kriel-kinderhuis in Potchefstroom is een van hierdie organisasies wat staatmaak op die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling se jaarlikse subsidie.

‘n Gebrek aan staatsubsidies in Noordwes is stelselmatig besig om die lewensbloed uit welsynsorganisasies te tap.

Die Abraham Kriel-kinderhuis in Potchefstroom is een van hierdie organisasies wat staatmaak op die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling se jaarlikse subsidie.

Die groot dilemma is dat daar gesloer word met die ondertekening van diensleweringsooreenkomste (DLO’s). As die DLO nie onderteken word nie, dan word daar nie subsidies verskaf nie. Volgens Christie Saayman, hoof van Abraham Kriel-kinderhuis, het hulle reeds in Oktober 2022 hul DLO by die departement ingedien, maar dat dit nog nie geteken is nie. Nadat dit reeds op die laatste teen die begin van April geteken moes wees.

“Dit beteken dat ons nou vir amper twee maande glad nie inkomste soos gewoonlik gekry het nie. Ons kry nie antwoorde oor waarom dit nog nie geteken is nie en intussen kry ons swaar. Die departement is soms laat, maar hierdie is baie erg,” noem hy.

Sake raak dringend vir Saayman-hul aangesien hulle nie nog vir maande op reserwefondse kan staatmaak nie.

“Enige bydrae van die gemeenskap in hierdie tyd sal waardeer word. ‘n Finansiële bydrae sal baie help om gate te vul. Nie-bederfbare kos sal ook ‘n groot verskil maak vir die kinders,” verduidelik Saayman.

Een van die groot redes vir hierdie gesloer met die DLO’s handel glo oor die interne dispute binne die departement. Volgens Freddy Sonakile, die DA se woordvoerder oor maatskaplike ontwikkeling in Noordwes, is die party bekommerd oor die voortdurende twis tussen die LUR van Maatskaplike Ontwikkeling, Boitumelo Moiloa en die Departementshoof (HOD), Itumeleng Mafokane.

“Dit is beklemtoon toe die departement sy jaarlikse prestasieplan en 2023-begroting aan die Portefeuljekomitee moes voorlê, maar versuim het om dit te doen. Mafokane het genoem dat hy nie ‘n jaarlikse prestasieplan sal aanbied wat hy nie onderteken of gemagtig het nie aangesien hy van sy magte gestroop is. Dit het komiteelede woedend gelaat en die vergadering moes uitgestel word sonder dat die jaarlikse prestasieplan verwerk is,” het Sonakile in ‘n persverklaring genoem.

Die woordvoerder van die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling, mnr. Petrus Siko, het genoem dat die department tans die aansoeke evalueer.

“Die departement is tans besig met verifikasie en validering van alle sakeplanne om nakoming van alle relevante voorskrifte te verseker,” het hy gestaaf.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button