News

Kom leer meer oor die Griekwa-Psalms

Prof. Hans du Plessis en Didi Potgieter, Potchefstroomse skrywer, sal tydens die geleentheid van die gedigte uit sy digbundels voorlees.

Potchefstromers het die gulde geleentheid om na voorlesings van die Griekwa-Psalms te luister en meer te leer oor Griekwa-Afrikaans en die oorsprong van hierdie gedigte.

‘n Voorlesing van prof. Hans du Plessis se Griekwa-Psalms vind op Woensdag, 17 Mei om 18:00 by die Snowflake-gebou plaas. Tydens dié geleentheid sal prof. Du Plessis ook meer oor sy taalnavorsing in Griekwa-Afrikaans vertel.

Griekwa-Afrikaans is ‘n Afrikaanse dialek wat die Griekwas praat. Dié volk se verhaal is kompleks omdat hulle nie ‘n homogene etniese groep is nie. Die meeste navorsing dui daarop dat hul die nasate is van gemengde huwelike tussen die koloniste en die inheemse bevolking aan die Kaap, veral die Khoi wat in die omgewing van Saldanhabaai en later Piketberg gewoon het.

Die Griekwas was ‘n nomadiese volk wat nie welkom was in die destydse Kaapkolonie nie en het hulle later in die Noord-Kaap (Namakwaland) en noord van die Garieprivier (Oranjerivier) gevestig. Hulle het oor die Gariep en dwarsoor Suidelike Afrika getrek. Dorpe soos Griekwastad, Campbell, Douglas, Delportshoop, Prieska, Kuruman, Daniëlskuil, Niekerkshoop, Pella, Riemvasmaak, Kokstad en Philippolis is te danke aan Griekwas wat hulle daar gevestig het.

Die Griekwas praat ‘n Afrikaanse dialek omdat die omgangstaal in die destydse Kaapkolonie Hollands was. Die nedersetters (hoofsaaklik Nederlanders, maar ook Franse, Italianers, Engelse, Skandinawiërs, Portugese, Pole en Russe) asook die inheemse bevolking was gedwing om Hollands te leer om kommunikasie tussen die verskillende volke aan die Kaap moontlik te maak.

Tydens Prof. Du Plessis se taalnavorsing van die Griekwa in die tagtigerjare, begin hy in Griekwa-Afrikaans dig. Die Griekwa-Psalm digbundels wat uit sy pen verskyn is: Innie skylte vannie Jirre (2001), Boegoe vannie liefde (2002), Hie neffens my (2003), en Karos orie dyne (2012).

Prof. Hans du Plessis gaan uit die Griekwa-Psalms voorlees op Woensdag, 17 Mei by die Snowflake gebou. Foto: Verskaf.

In sy digkuns gebruik hy Bybelse teksgedeeltes wat hy in Griekwa-Afrikaans transponeer. Hy transponeer egter nie net die taal nie, maar ook geografiese gegewens (die berg Sion word bv. na die ‘Grootdyn’ verander) en Bybelse begrippe (bv. die bose word na mitiese figure soos die beerlou of waterslang verander).

Prof. du Plessis en Didi Potgieter, Potchefstroomse skrywer, sal tydens die geleentheid van die gedigte uit sy digbundels voorlees. Die geleentheid word gratis aangebied, maar sitplek is beperk daarom moet belangstellendes teen Dinsdag, 16 Mei plek bespreek by potchkuns@gmail.com. Dié digaand word aangebied in samewerking met die Potchefstroomse Kunsvereniging.

You can read the full story on our App. Download it here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button