News

Hoogste erkenning vir Rotaryklub president

Dié toekenning is die hoogste erkenning vir diens in lyn met Rotary se leuse, "service above self", wat 'n Rotariër kan verwerf.

Sandra Uys, president van Parys Rotaryklub, het die afgelope naweek tydens die Rotary distrikskonferensie in Howick, KwaZulu-Natal, die eer te beurt geval om die gesogte Paul Harris-toekenning te ontvang. Die voormalige president van Rotary International, Bob Gallagher van Kanada, het ook die besondere geleentheid bygewoon.

Dié toekenning is die hoogste erkenning vir diens in lyn met Rotary se leuse, “service above self”, wat ‘n Rotariër kan verwerf. Die toekenning word slegs in uitsonderlike gevalle oorhandig waar ‘n merkwaardige bydrae tot die gemeenskap gelewer is.

Die toekenning is vernoem na Paul Harris, ‘n regsgeleerde en stigter van Rotary International in 1905 in Chicago. Hy het die bewe- ging destyds saam met drie ander sakemanne gestig. Die Paul Harris-toekenning kan aan Rotariërs sowel as nie-Rotariërs oorhandig word, en is bekendes soos Jimmy Carter en Moeder Teresa, al met die toekenning vereer.

Nog ‘n Parysenaar wat dié besondere eer te beurt geval het, was Eddie Schutte, ‘n voormalige president van Parys Rotaryklub. Die toekenning is aan hom gemaak in 1960-1961 toe hy distriksgoewerneur van Rotary was.

Rotary-klubs kan die benoeming vir ‘n Paul Harris-toekenning maak vir ‘n Rotariër wat ‘n uitsonderlike bydrae gelewer het in sy/haar gemeenskap wat dan oorhandig sal word tydens die distriksgoewerneursbesoek aan die klub. Die toekenning wat aan Sandra gemaak is, is op distriksvlak aan haar toegeken, wat die prestasie des te meer uitsonderlik maak.

Volgens Colin Engelbrecht, assistent distriksgoewerneur vir Distrik 9370 waaronder Parys Rotaryklub val, is dit wat Sandra in haar termyn as president van Parys Rotaryklub reggekry het, merkwaardig.

Sy kon dit regkry om ‘n klub wat feitlik tot niet was met slegs twee lede, binne maande te laat groei na 12 lede, en steeds groei die ledetal.
Engelbrecht het ook melding gemaak van die projekte wat Parys Rotaryklub aangepak het. Nie net is ‘n baie suksesvolle straatmyl die eerste keer in die dorp aangebied nie, maar het die Rotaryklub leiding geneem op verskeie terreine om vir inwoners van Parys ‘n verskil te kon maak in tye van ernstige nood toe die dorp onder meer vir dae sonder krag en water was. Die klub het onder haar leiding mense verenig, het hy gesê.

Sandra Uys, president van Parys Rotaryklub met die Paul Harris-toekenning. Links van haar is Colin Engelbrecht, assistent distriksgoewerneur vir Rotary Distrik 9370, met die voormalige president van Rotary International, Bob Gallagher van Kanada, aan haar regterkant. Hy het die besondere geleentheid bygewoon.

Hierbenewens is ook uitgereik na die plaaslike Epilepsie sentrum met tekkies wat vir die inwoners oorhandig is, en in Oktober word ‘n tweede straatmyl beplan. Dan is daar ook nog ‘n Health Wellness Day in die pyp-lyn, en betrokkenheid by die Rotary Youth Exhange program.

Die Paul Harris-toekenning span die kroon op Sandra se presidentsjaar wat 30 Junie vanjaar ten einde loop.

 

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button