News

Kragkrisis: Dit is die donker prentjie vir Parys

Dit is die omvang van die krisis

Buiten vir die ernstige probleme met die Parys interne kragverspreidingsnetwerk wat knaend deels ineenstort weens transformators wat of brand of ontplof of weens kabeldiefstal of pogings daartoe, word kragvoorsiening aan die groter Parys area boonop ook telkens deur sogenaamde interne “beurtkrag” (naas Eskom se eie beurtkrag) of dan “smartiekrag” soos dit bekend staan, getref.
Baie vrae word gevra oor die “smartiekrag” en oor die sogenaamde “NMD” of dan die maksimum aanvraag waaraan Eskom moet voldoen tav sy kragvoorsiening aan Ngwathe. Daar word ook vrae gevra oor die toepaslikheid van die beslissing van die Grondwethof wat betrekking het op die hoeveelheid krag wat Eskom verplig is om te lewer. Hierdie is ‘n poging om antwoorde op sommige aspekte te gee.
Die “NMD” bepaal die maksimum hoeveelheid krag wat Eskom verplig is om aan elk van Ngwathe se vyf dorpe te lewer. Ek handel hierin net met Parys. Die “NMD” word bepaal per ooreenkoms tussen Eskom en die bepaalde munisipaliteit en mag per ooreenkoms aangepas word soos wat die aanvraag mag groei. In Parys se geval was die aanvraag, toe die jongste verskaffingsooreenkoms in SEPTEMBER 2008 gesluit was, 21kVA.
Natuurlik het Parys en omliggende woongebiede sedert 2008 dramaties uitgebrei en daarmee saam die aanvraag na krag. Kragcverbruik het 21kVA begin oorskry tot 24,5 kVA, maar Eskom het twee transformators by sy substasie beskikbaar gehad wat elkeen 20 kVA kon lewer en dit was dus nie ‘n probleem nie. Op ‘n stadium het een transformator egter defek geraak en het Eskom dit van die netwerk ontkoppel. Die resultaat was dat die oorblywende transformator oorlaai was en defek geraak het in Mei 2020. Parys was toe sonder krag vir etlike dae terwyl Eskom die transformator herstel het.
Eskom het kort daarna die (tweede) defekte 20kVA transformator verwyder en later vervang met een van 10kVA. Laasgenoemde is egter nie aan die netwerk gekoppel nie omdat Eskom toe reeds begin aandring het dat Ngwathe se NMD eers verhoog moet word voordat meer as 21kVA voorsien sal word. Om die verhoging van kapasiteit tot 25kVA te bewerk sou in Julie 2022 R 155 930,00 kos MAAR Eskom het terselfdertyd aangedring dat Ngwathe verbruikersdepositos, wat voorheen nie op aangedring was nie, vir al vyf sy dorpe betaal. Dit het die totaal betaalbaar voordat Eskom sou instem tot kontraktuele verhoging van die NMD te staan gebring op R 66 735 000,00. Ngwathe het eenvoudig nie soveel geld beskikbaar nie en Eskom gebruik Ngwathe se onvermoë om aan die vereiste te voldoen om Ngwathe kontraktueel gebonde te hou aan die ou (uitgediende) vasstelling van 21kVA. Gegewe die feit dat Ngwathe ‘n geruime tyd reeds nie in staat is om sy Eskom maandrekening ten volle te betaal nie moet dit seker verstaanbaar wees dat Eskom ‘n mate van sekuriteit vereis voordat nog meer krag aan Ngwathe verskaf word.
Die Howe het wel beslis dat Eskom dieselde hoeveelheid krag aan Ngwathe moet voorsien as wat die verbruik was voor die beperking wat tot die hofsaak aanleiding gegee het. Dit het gewissel tussen 21kVA en 24,5kVA. Eskom se houding bly egter dat hy nie, totdat die NMD by ooreenkoms verhoog is, meer hoef te verskaf as die ooreengekome perk van 21 kVA nie. Prakties is dit seker moontlik om Eskom (en die munisipaliteit) stragfregtelik aan te kla vir minagting van die Hof, maar ek is persoonlik van oordeel dat dit nie Parys se probleme sal oplos nie.
Dit bring my by “smartiekrag”. Sou die munisipaliteit toelaat dat almal soveel krag verbruik as wat hulle eintlik werklik benodig om te oorleef, sal dit eenvoudig meebring dat Eskom se enkele funksionerende transformator so oorlaai sal word dat dit in alle waarskynlikheid sal opblaas. Sou dit gebeur mag die dorp vir etlike dae weer, soos in 2020, totaal sonder enige kragtoevoer sit. Dit is dus in die huidige omstandighede noodsaaklik dat die lading wel gemonitor en beheer word. Ek glo dit kan egter beter administreer word en sal hierdie aspek opneem.
Aan die positiewe kant kan ek meedeel dat die Infrastruktuurkomitee volgende week ‘n onderhoud sal voer met ‘n kragdeskundige wat dalk kan help met ‘n plan om die maksimale aanvraag so te bestuur dat binne die Eskomperk gehou sal kan word. Meer inligting sal na afloop van die onderhoud verskaf word.
Vrae word ook gevra oor die regering se besluit dat Eskom tot ‘n derde van munisipaliteite se skuld moet afskryf. Een van vele vereistes wat gestel word om vir die afskrywing te kwalifiseer is dat ‘n munisipaliteit wat daarvoor aansoek doen minstens sy maandrekening elke maand voluit moet betaal. Teen die swak tempo waarteen vele verbruikers tans vir hul dienste betaal is dit eenvoudig nie haalbaar nie. Dit is dan ook net logies dat ‘n verdere vereiste is dat munisipaliteite wat wil kwalifiseer hul skuldinvorderingsprosesse drasties sal moet opskerp. Die saak moet egter nog deur die Raad oorweeg word voordat ‘n finale besluit geneem sal word oor hoe die geleentheid ten beste benut sal kan word.
Ek is terdeë bewus dat die voorgaande nie oplossings bied nie, maar vertrou dit bring wel bietjie meer duidelikheid oor die dilemma waarin die munisipaliteit homself vanweë swak- en/of wanbestuur oor ‘n lang periode bevind.
Raadslid Phillip vd Merwe
Heilbron
10 Mei 2023

Related Articles

Back to top button