News

Dringend: Ouers of grootouers van jong dogters moet hierdie berig lees

Ouers en hul dogters (of seuns) wat reeds geteiken is, moet asseblief na vore kom sodat julle dadelik professionele hulp kan kry. ISS Investigations beskik oor gevorderde elektroniese hulpmiddels waarmee die oortreders opgespoor en vasgetrek kan word.

Die berig se eerste weergawe het in Vaalweekblad se papieruitgawe van 5 Mei 2023 verskyn

VEREENIGING. – “Ouers, maak seker julle weet met wie jul dogters op hul selfone gesels. Gewetenlose mans is daarop uit om die lewens van jong Vaaldriehoekses meisies te vernietig.”
Só waarsku mnr. Rodney van Rensburg, private ondersoeker van ISS Investigations, nadat die ondersoekdiens die afgelope maand bevind het dat minstens nege plaaslike skoolmeisies tussen die ouderdom van 9 en 15 jaar niksvermoedend by ‘n porno- en afpersingsnetwerk betrek is.

Volgens Van Rensburg se bevindings is ‘n groep mans wie se ouderdomme tussen 19 en 49 wissel, by die netwerk betrokke. Hulle slaan hul kloue gewoonlik in deur ‘n bloedjong, naïewe meisie op haar selfoon te kontak en met haar te begin gesels. Sodra die meisie se vertroue gewen is, gaan die normale “chats” oor na sekspraatjies en die meisie word uiteindelik oorreed om ‘n naakfoto van haarself aan die man te stuur. Dit lei uiteindelik daartoe dat die meisie afgepers word om by seksuele aktiwitiete betrokke te raak, of dat haar ouers geld moet betaal om te voorkom dat haar naakfoto op sosiale media versprei word.

“Een van die ouers het  ‘n afpersingsdreigement gekry dat hulle R50 000 moes betaal om te voorkom dat hul dogter se foto op die internet geplaas word,” sê Van Rensburg.
“Ons glo dat hier veel meer meisies betrokke is as net die nege van wie ons weet. Ek voel ouers moet gewaarsku word want min mense is bedag op dié soort gevare.”

Een van die meisies wat by die porno-netwerk ingesleep is, kom uit ‘n vooraanstaande Vaaldriehoekse familie. Volgens Van Rensburg is meisies en hul ouers gewoonlik huiwerig om ‘n klag by die Polisie te lê uit vrees dat hul identiteit rugbaar sal word.
“Om dié rede vra ISS Investigations ‘n mandaat by die betrokke ouers om sake namens hulle te open. Absolute vertroulikheid word gewaarborg. Ons werk dan saam met die Kinderbeskermingseenheid en ‘n verdagte kan binne twee of drie dae gearresteer word. Ons glo die skuldiges is gevaarlike mense wat so ‘n meisie of haar ouers se lewe kan bedreig. Die afpersers moet liewer nie deur die ouers alleen aangedurf word nie,” sê Van Rensburg.

Hy meen sommige van die ouer meisies wat hul betrokkenheid geheim probeer hou en nie hul ouers daaroor inlig nie, is selfs bereid om seks met die afpersers te hê in ruil daarvoor dat hul foto’s nie versprei word nie.
“Sulke meisies is baie weerloos en sien nie ‘n ander uitweg uit die probleem nie. Dit kan selfs tot selfmoord lei,” waarsku Van Rensburg.

* Ouers wat vermoed of weet dat hul dogters (of seuns) by ‘n seksnetwerk ingetrek is, kan Van Rensburg kontak by 072 613 9925. Alle inligting sal uiters vertroulik hanteer word. Die ondersoekdiens beskik oor gevorderde elektroniese hulpmiddels waarmee die oortreders vasgetrek kan word.

Besoek hierdie skakel vir meer inligting: https://www.iss-investigations.org/cellphones_and_sim_cards.html

Related Articles

Back to top button