News

Oud-Gimmie slaan rol in Binnelanders los

"Ek voel baie geëerd. Toe ek jonger was het ek, my ouma en my ma altyd Binnelanders saam gekyk. Dit was ons familie-tyd."

Die Potchefstromer en oud-Gimmie, Zandélle Meyer, het ‘n belangrike mylpaal in haar jong akteursloopbaan bereik toe sy onlangs ‘n rol in die bekende Afrikaanse weeksdag-drama, Binnelanders, gekry het.

Zandélle, wie in 2018 by Potchefstroom Gimnasium gematrikuleer het, vertolk die rol van Riekie, ‘n 17-jarige tiener in hierdie gewilde sepie. Sy het haar TV-debuut amptelik verlede week gemaak met haar eerste verskyning. In Binnelanders is sy die dogter van dr. Henry Louw (gespeel deur Francois Lensley).

Zandelle Meyer, ‘n oud-Gimmie, vertolk nou ‘n rol in die Afrikaanse drama, Binnelanders. Foto: Verskaf

“Ek voel baie geëerd. Toe ek jonger was het ek, my ouma en my ma altyd Binnelanders saam gekyk. Dit was ons familie-tyd. Ek het daardie selfde kinderlike gevoel van warmte en familie op die stel van Binnelanders beleef,” vertel Zandélle.

Sy noem dat sy in ekstase was, maar ook onkant gevang is toe sy die nuus hoor dat sy die rol van Riekie gekry het.

“Ek onthou nog ek het ‘n middagslapie gevang toe my agent my gebel het om die nuus te deel. Die oudisieproses het uit 2 rondtes bestaan: Tydens die eerste rondte moes ons twee selftapes ingestuur het van draft tonele wat Binnelanders vir ons deurgestuur het,” verduidelik sy.

Zandélle tydens een van die Binnelanders episodes waar sy die rol van Riekie vertolk.

Daarna het Susan Rossouw, wie verantwoordelik is vir rolverdeling van Binnelanders, ‘n oudisie met Zandélle via Zoom gedoen, aangesien sy nie al die pad na Johannesburg kon reis vanuit die Kaap nie.

“Tydens die Zoom-sessie het ons weer aan dieselfde asook nuwe tonele gewerk waarin Riekie is. Susan het ingelees as die ander speler. Tydens die sessie het ek terugvoering gekry op my spel en kon ek ‘n paar “takes” gedoen het om meer gemaklik te sit met die karakter,” verduidelik sy.

Dit is nie verbasend dat die regte deure oopgegaan het vir hierdie talentvolle en passievolle jong aktrise nie. Sy het al van jongs af ‘n liefde vir Afrikaanse toneel ontwikkel en het veral by die ATKV-Tienertoneel as skoolkind uitgeblink en is bekroon as beste aktrise in haar matriekjaar.

“‘n Nuwe wêreld het vir my oopgegaan toe ek op hoërskool aan ATKV-Tienertoneel begin deelneem het. Om akademies te presteer op skool het by tye baie druk op my geplaas en om dan in die aande te repeteer aan toneelstukke en musicals was vir my ‘n ontvlugting van Newton en al sy wette,” noem Zandélle.

Volgens haar het haar kunsonderwysers sowel as haar ma en ouma ‘n groot rol gespeel om haar in haar passie en liefde vir die kunste te ondersteun.

“Op skool het Juffrou Loretté (du Toit), Juffrou Connie Pretorius, Tannie Netta Schutte en Juffrou Suzette Wilkens ‘n plekkie in die son vir ons kultuurdiere verseker. En laastens Prof. P.A. Vivier, wat die regisseur was van baie van Gimmies se Tienertoneel Produksies. Alhoewel hy nie ‘n onderwyser by Gimmies was nie, het hy ‘n groot rol gespeel tydens my vormingsjare as aktrise op hoërskool,” beaam sy.

Na skool het sy Potch verlaat vir nuwe horisonne by die Universiteit van Stellenbosch waar sy haar dramagraad in 2021 voltooi het. Sy deel dat die kurses haar geleer het om innoverend te dink, maar sy voel ook dat die Covid-pandemie haar baie ontneem het in haar tweede en derde jaar.

“Om teater met ‘n masker te skep, jou afstand te hou van jou mede-akteur en dan vir twee mense op te tree was bietjie van ‘n anti-klimaks.  As jy Drama swot leer jy mense ken op ‘n ander vlak, omdat julle baie tyd saam spandeer om projek aanmekaar te sit. Die konneksies en hegte vriendskappe wat ek daar gevorm het, was en is vir my die beste deel.”

Hierdie jong aktrise kyk op na die bekroonde aktrise, Sandra Prinsloo vir haar vermoë om karakters sonder moeite te kan vertolk. Sy vertel ook dat Trix en Lea Viviers met betrekking tot film ook haar motiveer met die vreeslose rolle wat hulle aanpak.

“Ek is baie lief vir die Afrikaanse Film- en Teaterbedryf. Dit is baie opwindend om te sien in watse rigting dit beweeg. Met al die vars en vernuwende stories wat vertel word, is daar ‘n definitiewe omwenteling aan die gebeur en ek sal graag wil deel raak van die “new wave”.

Ek het vir my ma gesê, terwyl ek in die fleur van my lewe is (vroeë 20’s), wil ek soveel as moontlik toneel speel, karakters ontdek en leer totdat ek gereed is om met die grootname te werk en te skep,” sê sy.

Buiten die feit dat sy nou in Binnelanders is, is sy ook hard aan die werk by die The Stage Performing Arts Studio in Durbanville waar sy sang, dans en toneel beoefen met die doel om in kabaret te kan optree en sodoende haar vaardighede te verbreed.

“Ek dink daar is ruimte vir jong mense om dié genre verder te laat voortleef. My langtermyn doelwitte is om meer te leer van die Franse Film Industrie in Afrika en die moontlikhede wat dit kan inhou. Verder wil ek myself bemagtig met die vaardighede om ook te kan klasgee in Drama en Musiek Teater.”

Daar wag ‘n blink toekoms op Zandélle wie se passie en energie vir die bedryf aansteeklik is.

“Jy moet jou hart en siel gee vir die kunste, glo in jou drome en omring jouself met mense wat bankvas agter jou en jou drome staan.”

Zandélle se gunstelinge:

TV-Reeks: Bridgerton

Film: A Knight’s Tale

Toneelstuk: The Borrow Pit deur Jemma Kahn

Related Articles

Back to top button