News

“Ek hou nie van ‘celebs nie; ek skryf oor gewone mense”

"Ek is ballisties oor Afrikaans. Afrikaans sal voortleef. Skryf net soos jy praat, sonder onnodige byvoeglike naamwoorde, skryf net," is haar boodskap aan die jeug.

Wanneer skrywer en joernalis Carla van der Spuy vertel van haar dae in die redaksiekantoor en op die hofbanke waar sy verslag gedoen het, hang jy aan haar lippe. Vir 50 jaar lank skryf sy. Die afgelope 27 jaar vryskut vir onder meer Maroela Media en Rooi Rose. Dan was sy ook jare lank Noordwes korrespondent vir Jacarande FM.

Maar dit wat sy deel oor haar navorsing en die skryf van haar nie-fiksie boeke wat uit haar pen verskyn het, laat jou besef dat die
passie om mense se stories te vertel in haar skrywersare pomp.

Van al die kreatiewe bedrywe is skrywers dié wat die laagste onder die radar loop, sê Carla, wat eintlik ‘n Kapenaar is, en toe ‘verval’ het in die Transvaal soos sy dit stel. Sy het Beeldende Kunste aan die Universiteit van Stellenbosch studeer, maar dit was haar ouma wat altyd gesê het sy moet skryf.

Nadat sy eers by die Burger aangeklop het beland sy uiteindelik by die Volksblad. Daardie jare het jy begin met vertaling en byskrifte, en was jy gelukkig as jy ‘n ‘byline’ kon kry, vertel sy. Nadat sy die Volksblad-leerskool deurloop het, skuif sy na die Oggendblad, en dit is daar waar sy die eerste keer in die hof begin verslag doen het in onder meer die Breyten Breytenbach-saak.

Die bekroonde skrywer en joernalis, Carla van der Spuy

Een ding het tot ‘n ander gelei en het verskeie boeke met misdaad en die onderwêreld as integrale tema uit haar pen gevloei. Sy het beide kante van die storie gehoor – dié van slagoffer, maar ook van misdadiger.

Haar aangrypende boek oor slagoffers van plaasaanvalle gee in besonder ook die ander kant van die verhaal wat nie altyd vertel word nie.

Al wen ek môre die Lotto sal ek nie ophou skryf nie. Joernaliste is nuuskierige mense, hulle vra reguit vrae. Jou maklikste vrae vra jy eerste, en later vertel mense spontaan hul stories, gesels sy. “Mense fassineer my en die vraag oor hoekom hulle sekere dinge doen.”

As sy uit passie kon skryf, sou sy graag stories met ‘n gelukkige einde wou skryf, sê sy, en bely dan haar passie vir Afrikaans.

“Ek is ballisties oor Afrikaans. Afrikaans sal voortleef. Skryf net soos jy praat, sonder onnodige byvoeglike naamwoorde, skryf
net,” is haar boodskap aan die jeug.

“Ek wens ek kon skrywers meer blootstellling gee,” sê sy, en benadruk hoe belangrik skryfskole is om nuwe talent te ontdek.

In gevangenisse waar sy beweeg het om die navorsing vir haar boeke te kon doen, het Carla ‘n unieke bydrae gelewer om bewustheid vir lees en literatuur te skep met die veldtog “Reading for Redemption.”
Twee van haar boekbekendstellings is selfs in korrektiewe sentrums gehou. “Stuur jou boeke wat jy nie meer voor nut het nie na ons gevangenisse, want mense het ‘n behoefte om te lees.”

Maar uiteindelik is om te skryf vir haar ‘n behoefte. “Ek wil nie sê ‘n roeping nie, dit klink té heilig. ‘n Skrywer se roeping is om te verstaan, nie te oordeel nie. Om vir mense ‘n stem te gee.” En dan voeg sy laggend by – jy raak kreatief as jy platsak en op pensioen is.

Haar nuutste boek, Gangster, is Saterdag in Parys bekendgestel.

You can read the full story on our App. Download it here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button