News

Liggaam wat vroeër in rivier gekry is nie dié van vermiste man nie

UItgebreide soektog lewer steeds niks op nie

Verskeie polisie-eenhede waaronder die Bloemfonteinse lugvleuel, K9 Soek-en-reddingseenhede van Welkom en Bloemfontein), polisieduikers van Bloemfontein, Parys SAPD en speurders van Parys het vandag, Vrydag 3 Februarie, die uitgebreide soektog na ‘n vermiste man se liggaam in die Vaalrivier by Parys voortgesit.

Van die polisielede wat vanoggend aan ‘n grootskaalse soektog na die liggaam van ‘n man in die Vaalrivier by die hangbrug in Parys deelgeneem het, is van links sers. Molefe van (K9 Soek-en Reddingseenheid in Welkom met Lupi, a.o Koch (SAPD duikeenheid Bloemfontein), a.o Kuhn (SAPD duikeenheid Bloemfontein), sers Tsokolidane (SAPD duikeenheid Bloemfontein), sers Nqai (Speurders Parys), knst Moqhedlana (Speurders Parys), a.o Jako Venter (Speurders Parys), a.o Van der Merwe (K9 Soek-en reddingseenheid Bloemfontein), a.o Swanepoel (K9 Soek- en reddingseenheid Bloemfontein met sy hond, Parco) en a.o B. J. van Rensburg (speurders Parys). Lede van die SAPD Lugvleuel van Bloemfontein wat gehelp het met die soektog was kapt. Van Wyk, kapt. Pienaar en sers. Campbell.
Polisieduikwers het vandag, Vrydag 3 Februarie aan ‘n grootskaalse soektog in die Vaalrivier by die hangbrug in Parys deelgeneem, waar ‘n man op 15 Januarie  verdrink het. Daar is sedertdien onverpoosd na die man se liggaam gesoek.

 

Die man het op Sondagmiddag 15 Januarie in die Vaalrivier by die hangbrug in Parys verdrink nadat hy in die water ingegaan, en toe deur die stroom meegesleur is. Die verdrinking is daardie Sondagaand om 19:00 by die Parys SAPD aangemeld.
A.o. Jan le Roux van Parys SAPD en a.o. Miya onder leiding van kapt. Bruwer, saam met a.o. Holtzhausen van die polisie se K9-eenheid in Sasolburg, en sy soek- en reddingshond, Bennie, het sedertdien onverpoosd na die liggaam gesoek, maar was die stroom aanvanklik té sterk vir duikers om in die water te kon ingaan.

Ervare kanoroeiers wat bekend is met die rivier en sy stroomversnellings in die omgewing van die hangbrug, se hulp is  sedertdien verskeie kere ingespan, maar sonder sukses.

Dinsdagoggend, 31 Januarie, is inligting van die publiek ontvang van ‘n liggaam wat by die Riviera aftreeoord in Parys in die rivier gesien is. Nadat die liggaam uit die water gehaal is, is vasgestel dat dit nie dié van die vermiste man is nie.

Die man wie se liggaam gevind is, was ook nie as vermis aangegee nie.

Die 42-jarige man na wie daar steeds gesoek word, het ‘n oranje/rooi boxer broek gedra toe hy die laaste keer gesien is, en het ‘n blom tatoeërmerk met die syfer 26 op sy linkerskouer.

Mense is gevra sou hulle  enige inligting hê wat die polisie kan help in hul soektog, om asseblief kapt. Bruwer te skakel by  0824668094 of sers. Nqai by 082 554 3041. Onthou ook dat daar geen wagtydperk is vir die aanmeld van ‘n persoon wat vermis word nie.

Related Articles

Back to top button