News

Tienerswangerskap. Meisies so jonk as tien jaar swanger

Tienerswangerskappe het talle sielkundige, gesondheids-, ontwikkelings- en bevolkingsprobleme tot gevolg

Tienerswangerskap is nie iets nuuts nie, en deesdae word dit beslis ook nie meer as “skande” beskou nie. Tog, kyk ’n mens na die 2017-statistiek wat aandui dat bykans 120 000 Suid-Afrikaanse tienermeisies tussen 15 en 19 in daardie jaar geboorte geskenk het, wonder ’n mens onwillekeurig wat van hierdie meisies word – wie sorg vir hulle en die babas, gaan hulle terug skool toe, verval hulle net verder in ’n siklus van armoede … Wat nog meer onrusbarend is, is die nuwe tendens dat kinders so jonk as 10 jaar oud swanger raak.

Tienerswangerskappe het talle sielkundige, gesondheids-, ontwikkelings- en bevolkingsprobleme tot gevolg, maar wat is die grootste uitdagings in die verband en wat is die werklike gevolge op jong meisies en die betrokke jong seuns? Hoe hanteer ‘n mens dit? Want, om skielik uit te vind dat jy swanger is, en dat die swangerskap boonop onbeplan is, kan ‘n groot skol wees en kan geweldige stres tot gevolg hê.
Afrikaans.com het Emmerentia van Wyk, ‘n medewerker van die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans (SBA), en aanbieder van hulle werkswinkels oor die voorkoming van tienerswangerskappe, genader om ons vrae te beantwoord.

Wat is die hoofoorsake van tienerswangerskappe?

Volgens Emmerentia is daar talle oorsake, maar die volgende is spesifiek op ons kinders van toepassing:
•     Gebrek aan ouerleiding en/of ouertoesig
•     Enkelouerhuishoudings
•     Gebrek aan positiewe familie-/gesinsinteraksie
•     Moeder was ’n tienerouer
•     Gebrek aan kennis oor voorbehoedmiddels, swak toegang tot voorbehoedmiddels of te skaam om kliniek toe te gaan vir voorbehoedmiddels
•     Ongereelde en verkeerde gebruik van voorbehoedmiddels
•     Om swak selfbeeld `n hupstoot te gee
•     Onkunde
•     Portuurgroepdruk
•     Armoede
•     Verkragting en/of seksuele mishandeling
•     Kwessies met die beëindiging van swangerskap
•     Deel van `n groep wat waarde aan seksuele aktiwiteit gee
•     Om in die mode te wees
•     Soeke na liefde
•     Gebrek aan diepgaande kennis oor puberteit, soos menstruasie en voorbehoedmiddels
•     Kry inligting by portuurgroep waarvan die akkuraatheid bevraagteken word

Hoe ervaar die swanger tiener die situasie?

Emmerentia sê dat wanneer ’n tiener swanger word, haar lewe vir altyd verander en dat dit baie moeilik kan wees.

•     Emosionele reaksies. Baie ervaar alleenheid, want hulle word afgesny van hulle vriende en in baie gevalle selfs deur die kêrel. Daar is dikwels ook onvoldoende kommunikasie met die ma, want die meisie kan nie deel wat sy werkilk ervaar terwyl sy swanger is nie.

•     Die omstandighede tuis is ook baie moeilik vir die swanger tiener. Dit was die kommentaar van een tiener: “Die swangerskap was vir my baie moeilik. My pa het vir baie tye nie eers met my gepraat nie, so asof hy my wil afgeskryf het en my ma wat gedrink het.”

•     Baie ervaar ook `n gevoel van moedeloosheid, want hulle is nou bang om `n ma te wees en die verantwoordelikheid wat daarmee saam gaan kom.

•     Swanger tieners ervaar ook gevoelens van spyt wees, want: “Ek kon nie my matriekjaar voltooi nie, kon nie matriekafskeid toe gaan nie. Ek het besef daar is so baie wat ek gemis het en het baie gehuil.”

•     Baie swanger tieners ervaar baie bekommernis oor die finansiële aspek van hul lewe asook oor die gesondheid van hul baba.

•     Swanger tieners is bewus van die impak wat hul terugkeer na die skool kan hê. Baie van hulle wil nie terugkeer skool toe nie omdat baie van hul vriende al die skool gelos het. Sommige van hulle keer wel terug skool toe, maar weens die druk en omstandighede by die huis, los hulle dan ook maar die skool. Hulle is dan ook skaam as hulle terugkeer skool toe.

Enkele riglyne om die situasie te hanteer en tienerswangerskap te verhoed

•     Skole kan `n baie belangrike rol speel in die verband, omdat dit die plek is waar die kinders al die nodige inligting kan kry om hulself te bemagtig rakende hul seksualiteit, ensovoorts.

•     Werkswinkels kan gehou word om die kwessies te hanteer. Tydens die werkswinkels kan sprekers, soos byvoorbeeld klinieksusters, gevra word om oor voorbehoedmiddels te praat, indien die opvoeder ongemaklik is om oor die kwessies te praat. In baie gevalle is dit moeilik vir ouers om oor seks, seksualiteit, voorbehoedmiddels, en dies meer te praat, of ouers self het nie genoeg inligting daaroor nie.

•     Tieners kan na klinieke toe gaan om meer omtrent voorbehoedmiddels uit te vind. Ongelukkig is die klinieke dikwels nie tienervriendelik nie en voel tieners nie vry om soontoe te gaan nie.

•     Verbeter tieners se kennis rakende voorbehoedmiddels. Hou gereelde werkswinkels in die gemeenskap wat die kind, ouer, skool en kerk betrek. Sodoende kan die ouers ook hulself bemagtig oor onderwerpe waaroor hul min kennis het.

•     Daar is `n groot behoefte aan noodsaaklike kommunikasie tussen ouer en kind omdat onderwerpe soos seks oor gepraat moet word. Ondersteunende groepe kan gestig word om ouers te help wat probleme mag ondervind.

•     Kry plekke waar moeder en dogter vryelik kan praat oor hul gevoelens en idees uitruil buite die grense van tradisionele rolle.

•     Seksualiteitsopvoeding moet onder andere daartoe bydra dat tieners goed voel oor hulself en hul liggame, en sodoende ook hul selfbeeld verhoog.

•     Seksualiteitsopvoeding moet die positiewe komponente van intimiteit bevorder en nie net fokus op die negatiewe, soos onbeplande tienerswangerskap nie. Duidelike onderskeid moet gemaak word tussen seksualiteitsopvoeding en seksonderrig.

•     Programme moet inligting en demonstrasies insluit oor voorbehoedmiddels en hoe om dit te gebruik.

Lees die volledige artikel hier: Tienerswangerskap. ’n Steeds groeiende kwessie onder die jeug – Afrikaans.com

Related Articles

Back to top button