News

Polisie krap kop na inbrekers Bybels steel

Wat sou die diewe besiel het om Bybels te vat?

Hier is nog een van die interessante nuusgebeure uit Vereeniging se ouer dae:

Collin en Karin Orr van Disastraat, Arconpark, het op 23 Maart 2013 inkopies gaan doen, min wetend dat vyf mans besig was om hul huis helder oordag te plunder. Met hul tuiskoms was die huis in totale chaos. Die kaste in elke vertrek was oopgeruk en klere en ander besittings was die wêreld vol gestrooi. Hul dogter se kamerdeur was gesluit, maar is ook oopgebreek en alles van waarde gesteel.

Mnr. Orr het destyds aan Vaalweekblad gesê die inbrekers het skynbaar presies geweet waarna hulle soek en is binne ‘n kwessie van ‘n paar minute in en uit die huis.

As Collin en Karin ‘n paar minute vroeër by die huis gestop het, sou hulle die inbrekers waarskynlik op heter daad betrap het. Die diewe het onder meer kontant, rekenaars, parfuum, juwele, alkohol en elektriese toebehore ter waarde van duisende rand gesteel. Bankkaarte van die Orrs is ook gesteel.

Wat die gesin en polisie egter laat kopkrap het, was dat die inbrekers ook met twee van die Orrs se Bybels daar weg is. Inwoner van die straat het na die voorval gerapporteer dat hulle vyf verdagte mans in ‘n BMW sien ry het.

Colin het later die dag ‘n SMS van sy bank ontvang nadat die skelms probeer het om geld met een van sy kaarte by ‘n vulstasie in Sasolburg te onttrek.

Die Orrs se huis is na die inbraak vir vingerafdrukke en leidrade gefynkam, maar dis onbekend of die skuldiges ooit aangekeer is. Mens kan net nie ophou wonder wat van daardie gesteelde Bybels geword het nie. Dalk het die diewe dit gelees en tot inkeer gekom. Maar dis te betwyfel…

https://vaalweekblad.com/147887/polisie-krap-kop-na-inbrekers-bybels-steel/

Lees nog van hierdie interessante staaltjies uit vervloë se dae in Vereeniging op Vaalweekblad se webtuiste www.vaalweekblad.co.za

Related Articles

Back to top button