News

Onwelkome gas in swembad jaag gesin op hol

Op ‘n video wat sy geneem het, kan gesien word hoe die slang van sowat 40 cm verbete probeer om kop bo water te hou

VAALPARK. – Al was dit verlede Vrydag versengend warm in die Vaaldriehoek, was daar ‘n goeie rede waarom Loraine Peyper Viljoen en haar gesin nie lafenis in hul swembad wou gaan soek nie: ‘n Slang het reeds al wriemelend in die water baljaar!

“Die wind het die vorige dag vreeslik in Vaalpark gewaai en toe ons die volgende dag die swembad wou skoonmaak, sien ons die slang in die water,” sê Loraine, wat erken dat sy doodbang is vir slange.

Op ‘n video wat sy geneem het, kan gesien word hoe die slang van sowat 40 cm verbete probeer om kop bo water te hou terwyl sy lyf woeste krulle en draaie maak. Hy was skynbaar al so moeg dat hy by tye met sy bek aan die chloorhouer probeer vasbyt het om te rus.

Loraine het dadelik ‘n boodskap op Vaalweekblad se Facebook-groep geplaas in die hoop dat ‘n slangvanger hulle kon help om van die onwelkome gas ontslae te raak.

‘n Slangkenner wat na die video gekyk het, het dit as ‘n skadelose molslang geïdentifiseer en aanbeveel dat Loraine hom met ‘n vangnet uit die water moes skep en uitgooi.

“Ons was baie skrikkerig vir die gedoente maar my dogter het hom toe met die swembad se skepnet uitgehaal en in ons tuin vrygelaat. Hy kan baie bly wees want ek is histeries bang vir ‘n slang. My eerste gedagte aan ‘n slang is om sy kop plat se slaan,” sê Loraine. Sy voeg by dat sy hom darem nie regtig wou seermaak nie en net dankbaar is dat hulle die swembad weer vir hulself het.

* Verskeie mense wat op hoewes in die Vaaldriehoek woon, rapporteer dat hulle die afgelope weke meer slange as gewoonlik naby hul huise opgemerk het. Hulle skryf dit daaraan toe dat die slange weens die warm, droë omstandighede na koelte kom soek.

 

Die molslang van sowat 40 cm terwyl hy nog in die swembad van ‘n Vaalparkse gesin baljaar het.

 

You can read the full story on our App. Download it here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button