News

Bekende in rustige woonbuurt deur huisrowers vermoor

Skaars twee jaar nadat twee jong meisies hul ma weens siekte aan die dood moes afstaan, het hulle verlede Saterdag ook hul pa, mnr. Neil Toye (55) van Vereeniging in tragiese omstandighede verloor.

 

Mnr. Toye, ‘n bekende inwoner van Vereeniging, is in die vroeë oggendure van Saterdag, 8 Oktober, deur rowers in sy huis in Arconpark oorval en vermoor.

‘n Buurman het die oggend onraad vermoed toe hy sien dat die motorhuisdeure en hek van mnr. Toye se huis in Cameliastraat, Arconpark, oopstaan. Sy bakkie was weg en sy foon afgeskakel.

Die bekommerde buurman het ‘n vriend van mnr. Toye gebel, wat op sy beurt met mnr. Trevor Toye, Neil se broer, in verbinding getree het. Trevor het dadelik vanaf sy huis in Meyerton na Arconpark gery om ondersoek in te stel.

“Toe ek by Neil se huis kom, kon ek deur ‘n venster sien dat daar klere in die gang lê. Die veiligheidshek by die voordeur was gesluit maar die deur was oop, met die sleutels aan die binnekant. Ek het daarin geslaag om die sleutels raak te vat en die veiligheidshek oop te sluit.

“Ek het ingegaan en op Neil se liggaam in die gang afgekom. Sy hande en voete was vasgebind. Ek het dadelik besef hy was klaar weg. Sekuriteit Sonder Grense het in daardie stadium by die huis opgedaag en die toneel afgesper,” sê Trevor, wat soos die res van die Toye-familie platgeslaan is deur die tragedie.

Die presiese oorsaak van Neil se dood is tydens ‘n post mortem bepaal, maar nog nie amptelik aan Vaalweekblad bekend gemaak nie.

“Hoewel Neil nie ‘n kliënt van Sekuriteit Sonder Grense was nie, het hulle ‘n uitstekende diens gelewer. Hulle het die polisie ontbied en met alles gehelp. ‘n Private ambulansdiens sowel as die polisie was vinnig op die toneel en die forensiese span het die huis dadelik begin fynkam vir vingerafdrukke,” sê Trevor.

Neil se kamer en ‘n kas in die gang is onder meer geplunder. Sy kluis is met die kluissleutels oopgesluit en vuurwapens wat daarin toegesluit was, word vermis. Die rowers het ook sy skootrekenaar en ‘n horlosieversameling gesteel.

Die aanval het vermoedelik tussen 01:00 en 05:00 Saterdagoggend plaasgevind. Sekuriteitskameras in die gebied toon dat die rowers in Neil se wit Corsa-bakkie van die toneel af weggery en Arconpark omstreeks 05:00 verlaat het. Niemand is tot dusver in verband met die voorval aangekeer nie.

Neil, wat ‘n instrumenttegnikus by Sasol se chlooraanleg was, het sedert die dood van sy vrou Shelly in 2020, alleen in die huis gewoon terwyl hul twee dogters aan die Rand studeer.

Lees hier die volledige berig op die webwerf van die Gazette se susterskoerant Vaalweekblad:

Bekende in rustige woonbuurt deur huisrowers vermoor | Vaalweekblad

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button