News

My Faber-Castell storie…

Hierdie ongelooflike ervaring en toer het my net meer waardering vir dié fantastiese produk gegee.

As dogtertjie was ek al mal oor Faber-Castell potlode. Later het ek myself geleer om kalligrafie (The art of writing letters and words with decorative strokes) te doen en Faber-Castell was verseker een van my natuurlike keuses.
Met my KykNet Kunsvlyt deelname in 2019 was ek bevoorreg om die bestuur van Faber-Castell Suid-Afrika te ontmoet. Ons het oor die afgelope drie jaar ‘n goeie verhouding opgebou, en toe hulle hoor ek gaan Duitsland toe, het hulle gevra of ek die Faber-Castell kasteel en fabriek wil besoek.
Ek was só opgewonde omdat ek al vir lank droom om daar besoek te gaan aflê. Gelukkig was die dorpie waar Faber-Castell is, net so twee ure per trein van my bestemming in Duitsland.
Reëlings is getref dat ek die Kasteel- en die Pencil-toer op 15 Augustus sou doen.
Ek moes al baie vroeg op die trein klim om na Stein, Nuremburg te reis. My toer het om 11:00 begin en spesiale reëlings is vir my getref om die toer in Engels te doen.
Die meeste toere word net in Duits aangebied.
Die treine in Duitsland is skoon en veilig, en jy ry deur die mooiste klein plattelandse dorpies. Op die Stein-stasie moes ek net eers my rigting regkry vir my 15-20 minute stap na die Kasteel.
Dis ‘n kleinerige, boomryke dorpie in die buitewyke van Nuremburg.
Ek is hartlik by Faber-Castell verwelkom deur die area-bestuurder vir Afrika en Asië, asook die toergids.
Ons toer het begin met die Pencil-toer.
Die eerste loodpotlood is in 1761 gemaak. Natuurlik word alles deesdae met masjiene gemaak, en die proses is soveel vinniger.
Faber-Castell vervaardig meer as 2.3 biljoen potlode per jaar.
Die hout van die potlode is Dennehout, aangesien dit meer gekonsentreerd en sag is. Dit gee ‘n goeie stabiele basis vir die potlode.
Al Faber-Castell se hout kom van Brazilië af waar die klimaat gunstig is vir die bome om vinnig te groei.
Hulle glo in ‘n volhoubare besigheid en daarom word daar elke keer nuwe bome aangeplant wanneer bome afgekap word vir die vervaardiging van potlode.
Daar is ‘n oorweldigende reuk van was in die fabriek.

Die kleurstof van die kleurpotlode word met was gemeng sodat dit ‘n goeie kwaliteit kleurpotlood gee.
Al die prosesse is aan my gewys, selfs wanneer die potlode op die einde skerp gemaak word en die klein uitvëer aan die agterkant van die potlood gemonteer word.
Vir my was die hoogtepunt die proses waar hulle die pragtige goue skrif op die potlode met spesiale masjiene afdruk.
Na die insiggewende toer het ons na die Faber-Castell Kasteel oorgestap.
Die pragtige kasteel is nou al deel van nege generasies van die Von Faber – familie. Die kasteel is in die 19de eeu gebou, en in 1903 is die “nuwe” kasteel bygevoeg.
Die mees interessante deel is dat die Faber-Castell Kasteel as ‘n Perskamp gebruik is in die Tweede Wêreldoorlog. Tot soveel as 1 000 joernaliste het daar tuisgegaan en van daar af persberigte geskryf.

Daar was ook die beroemde “Nuremburg Trails” wat in die kasteel gehou is.
Vandag is die kasteel ‘n museum, en oop vir die publiek. Beslis ’n besoek die moeite werd!
Na my toere is ek terug na hulle besoekersentrum waar jy na hartelus produkte kan koop en besigtig.
Van die versamelstukke is onbekostigbaar.
Hierdie ongelooflike ervaring en toer het my net meer waardering vir dié fantastiese produk gegee.

Related Articles

Back to top button