News

AfriForum en Ngwathe in die hof oor dorp se water

Die burgerregte organisasie AfriForum vat die Ngwathe munisipaliteit weer hof toe oor die dorp se drinkwater. Die saak kom Vrydag, 30 September in die hooggeregshof in Bloemfontein voor. Dit volg ná ‘n reeks van drie afsonderlike laboratoriumtoetse van watermonsters wat in Parys en Tumahole geneem is en wat toon dat die water met E.coli besmet …

Die burgerregte organisasie AfriForum vat die Ngwathe munisipaliteit weer hof toe oor die dorp se drinkwater. Die saak kom Vrydag, 30 September in die hooggeregshof in Bloemfontein voor.
Dit volg ná ‘n reeks van drie afsonderlike laboratoriumtoetse van watermonsters wat in Parys en Tumahole geneem is en wat toon dat die water met E.coli besmet is, het AfriForum Vrydag, 23 September in sy verklaring gesê nadat die hofstukke verlede week aan die munisipaliteit beteken is.
Die eerste van die laboratoriumtoetse is deur die drukgroep, Save Ngwathe, gedoen waarna AfriForum twee opvolgtoetse gedoen het. Monsters vir die toetse is geneem in Tumahole en in die middedorp.
Die organisasie het die Ngwathe munisipaliteit ná die eerste toetse 24 uur gegee om in te gryp in die toestand van die drinkwater.
Volgens Alta Pretorius, distrikskoördineerder vir AfriForum in die Mooirivier-streek, het die munisipaliteit vroeër die uitslag van die toetse deur Save Ngwathe en AfriForum bevraagteken en aangedui dat die munisipaliteit sy eie toetse sal doen. AfriForum sê die uitslag van die munisipaliteit se toetse is nog nie bekendgemaak nie.
AfriForum sê voorts dit het hom genoodsaak om hom weer na die hof te wend en te vra dat die hof dit ‘n dringende bevel maak om skoon water aan inwoners te voorsien wat voldoen aan die Suid-Afrikaanse Nasionale Standaarde (Nr. 241:2015). AriForum vra ook dat die aanbevelings van dr. Marlene van der Merwe-Botha, ‘n waterspesialis, se verslag geïmplementeer word en terugvoer aan die hof gegee sal word oor die stappe wat geneem word om wel aan die standaard te voldoen.
In AfriForum se verklaring het die organisasie ‘n beroep op die gemeenskap gedoen om die water te kook voordat dit gedrink word.
AfriForum het die Ngwathe munisipaliteit ook in Julie vanjaar hof toe gevat met ‘n dringende aansoek wat voor die hooggeregshof in Bloemfontein gedien het oor die dorp se voortslepende krag- en waterprobleme. Uitspraak is toe deur die hof voorbehou en word steeds op die uitspraak gewag.
Gazette het sedert 12 September navrae aan die Ngwathe munisipaliteit gerig oor wat die situasie by sy waterwerke tans is, die knaende watertekorte in dele van die dorp en ‘n verklaring rondom die water toetsuitslae. Ngwathe se uitvoerende burgemeester het verlede week onderneem dat die vrae wel geantwoord sal word, en sal die munisipaliteit se verklaring geplaas word sodra dit ontvang word.
Intussen het verteenwoordigers van Save Ngwathe Vrydag ‘n positiewe vergadering met die burgemeester en senior bestuur van die munisipaliteit gehad. Die groep sou weer die week met die munisipaliteit vergader.
Dit het egter ná die eerste ontmoeting geblyk dat die munisipaliteit met inwoners wil saamwerk.
Daar was veral ook ontvanklikheid vir Save Ngwathe se voorstel dat probleme en klagtes van die gemeenskap deur een kanaal deurgegee moet word na die munisipaliteit. Save Ngwathe kyk na die moontlikheid van ‘n selfoontoepassing waar die publiek klagtes kan rapporteer wat dan via die drukgroep aan die munisipaliteit deurgegee kan word.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button