News

Die tegnologie van dié waens verstom

Udolpho se Ossewakamp geopen

Die ossewakamp op die FAK se Udolpho Rivierplaas, is vanoggend, 24 September, op Erfenisdag amptelik vir die publiek geopen, as die jongste toevoeging tot die akkommodasie fasiliteit van die oord.

Gisteraand reeds het mense van sover as Ottosdal en Potchefstroom hier kom uitspan in die Liebenberg-laer toe daar vir die eerste keer hier op Udolpho in die ossewaens geslaap is.

Die 16 waens is vroeër vanjaar in ’n geskiedkundige trek van Clarens na Parys gebring deur ’n handjievol vrywilligers. Nie oor riviere en berge nie, maar na dekades pad langs het hulle gekom – op sleepwaens gelaai. ‘n  Kosbare erfenis.

“As ons monumente oprig, onthou ons kinders. Vir my is dit waaroor erfenis gaan.” het FC Pelser, mediabeampte van die FAK in sy boodskap gesê toe die lint geknip is om die kamp amptelik te open.

Vyftien van die 16 ossewaens is hier op Udolpho laer getrek in die Liebenberg- en Gerhard Wille-laers onderskeidelik, terwyl die 16de wa na die Voortrekkermonument in Pretoria geneem is waar dit deel sal vorm van ’n laer-uitstalling.
Die ossewakamp bied mense die unieke en besondere geleentheid om hierdie erfenis te kan waardeer, met die oudste van die waens wat dateer uit die 1800’s, en die res wat dateer uit die vroeë 1900’s.
Die wa wat uit die 1800’s dateer is een van net drie wat na die Anglo Boere-oorlog behoue gebly het, nadat meeste ossewaens tydens die oorlog verbrand is. Die presiese datum waarop elke wa gebou is, die wa-maker se naam en die plek vanwaar die wa afkomstig is, is op elke wa gegrafeer en is sigbaar wanneer die wa se linkervoorwiel afgehaal word.
Die FAK het die hele ossewa-kamp gekoop wat voorheen mense van heinde en verre na die skilderagtige Vrystaatse dorpie Clarens gelok het vir die unieke ervaring om in die ossewaens te kon slaap.
Die ablusiegeriewe en veldkombuis wat saam met die ossewa-kamp deur die FAK gekoop is, is ook van Clarens na Udulpho geskuif.
Die waens wat eintlik transportwaens is, bied slaapplek vir tussen vier en agt persone, en is daar selfs ’n “wittebrood-wa”

Dié waens se ‘tegnologie sal jou verstom

Met vanoggend se opening het wamaker Piet Breytenbach van Ottosdal, wat self ‘n paar ossewaens het, ‘sy ongelooflike kennis gedeel van hoe die waens destyds gebou is, en die prentjie geskets van die uitdagings wat daar destyds was  ook om die waens te laai.

Hy het ook prakties gedemonstreer hoe ‘n wawiel ingekort is.

Die tegnologie wat wamakers meer as eeu gelede gebruik het om die bokwaens en kakebeenwaens te bou, is verstommend. Vakmanskap en ondervinding het ‘n groot rol gespeel en daar is hart en siel ingesit in die wabouery.

Van die keuse van hout wat gebruik is, tot die proses vir die maak van die speke en die inkorting van die wawiele is met groot presisie gedoen.

Die sekondêre veerstelsel het gehelp om die moeilike padomstandighede te weerstaan, hoewel die vrag nie altyd kon nie. Waar nie gery kon word nie, kon die waens uitmekaar gehaal word om as vlot te gebruik om oor riviere te kom.

Die as het gewoonlik ‘n duim speling aan elke kant gehad en kon die as gevolglik in totaal  50mm skuif na elke kant wat gemaak het dat die wa in totaliteit omtrent 20 tree korter kon draai.  Die spasie wat nodig was om te draai vir die waens sien jy vandag nog as jy  kyk na onder meer Bloemhof se breë hoofstraat. Maar daar is ook dorpe soos  Fauresmith waar selfs ‘n breë straat nie voldoende was vir die bokwaens om te kon draai nie – daar moes uit die dorp gery word om te draai.

Om die waens te laai was  nie ‘n maklike taak nie.

As jy 800kg op jou wa kon laai  – wat vat jy saam uit ‘n groot gewelhuis. Wat laai jy op en wat los jy?  Dit wat jy saamvat is al  wat jy het, want die wa was die enigste vervoermiddel.

Die kakebeenwa se binnemaat was 900mm en sy lengte 3,5m

Die bokwaens was effens breër  en het in lengte gewissel van 14 vt tot 18vt

Dit beteken dat die breedte van die wa jou net ‘n driekwart bed sou kon laat inpas in ‘n bokwa, en ‘n enkelbed in ‘n kakebeenwa.

Piet is tydens die opening van die ossewakamp  vereer deur die FAK met ‘n sertifikaat vir sy bydrae tot die bewaring van kultuurerfenis.

Hyself sal een van sy waens vanjaar Doornkloof toe vat vir die Geloftefeesvieringe.

Vanoggend se opening van die ossewakamp is afgesluit met kettieskiet, hamergooi en jukskei.

‘n Unieke belewenis

Teen net R40 per persoon kan jy vir ‘n nag in die ossewaens slaap, en word die geld weer gebruik om die waens se wiele te hersien.

En jy moet weet – hierdie is nie om jou ‘n luukse oornagfasiliteit te bied nie. Hierdie is unieke belewenis van die eenvoud en stilte met net die natuur om jou  – iets van wat die Trekkers van ouds destyds beleef het.

Dit is sover bekend die grootste ossewa-kamp in die land, en sal dié kamp by die gewilde Udolpho kampterrein teenaan die Vaalrivier-oewer, ook ‘n groot inspuiting vir Parys se toerismebedryf beteken. Udolpho is op die Vaal Eden-pad net buite Parys.

  • In 2023 sal daar met die 150 jaar Bloedrivier-feesvieringe ‘n Groot Trek in die April-vakansie gehou word rondom Ottosdal waar daar in totaal 50km met ossewaens getrek sal word.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button