News

“Julle het  bygedra dat ek vandag hier kan staan. Dit was my kans op lewe.”

Bloeddiens sê dankie

Vrydag, 16 September, het die Suid-Afrikaanse Nasionale Bloeddiens (SANBD) die eerste Skenker Toekenning Seremonie in Parys aangebied om waardering te toon aan die gereelde, toegewyde skenkers wat hul mylpale bereik het tydens die inperking in 2019 tot Maart 2022.
SANBD het die voorreg gehad om skenkers te vereer met hul Klub 25 (Jeugprogram – 3 skenkers vereer), 50ste (14 skenkers vereer ), 75ste (4 skenkers vereer) 100ste (8 skenkers vereer), 125ste (3 skenkers vereer), 150ste (1 skenker), 175ste (1 skenker), en 250ste mylpaal in bloedskenk.
Die 250 mylpaal is behaal deur mnr. Adri van den Bergh, terwyl mnr. Wynand Serfontein erken is vir sy 175ste mylpaal.

Adri van den Bergh wat reeds 250 eenhede bloed geskenk het, saam met Monique Schreiner van die SANBD.

Skenkersbloed word meestal gebruik wanneer bloedvoorraad nodig is met geskeduleerde operasies, geboortes en kritiek siek pasiënte.
Om bloed te skenk is een van die onbaatsugtigste gebare, en kan een skenker se bloed tot drie mense se lewens red. Ongelukkig het die Covid-19 pandemie ook ‘n groot impak op bloedskenking gehad. Waar daar in 2019, 4 401 skenkers in Parys was, het die syfer in 2020 gedaal na 3 630, en in 2021 was dit 3 702. Tans is die syfer op 4 102.
Dit het die bloeddiens ook genoodsaak om meer geleenthede vir bloedskenking daar te stel en die keuse van plekke waar mense kan bloedskenk meer gerieflik vir skenkers te maak.
Tydens die geleentheid is weer klem gelê op die veiligheid van skenkers wat te alle tye die hoogste prioriteit vir die Bloeddiens is, en die vooruitgang wat daar ook reeds deur die diens gemaak is om tegnologie tot voordeel van die skenker in te span. Só sal ‘n selfoontoepassing skenkers help om tyd te bespaar omdat die ‘papierwerk’ reeds vooraf gedoen kan word met die invul van ‘n vorm op die toepassing. Daar is ook genoem van hommeltuie wat in plek gestel word om bloed af te lewer. Terwyl net 1% van die Suid-Afrikaanse bevolking bloed skenk, kon meer as 820 000 pasiënte se lewens verlede jaar weens skenkersbloed gered word. Hiervan getuig vele suksesverhale van pasiënte wat danksy skenkers ‘n tweede kans op lewe gekry het. Een so ‘n persoon is Wynand Serfontein, wat by die geleentheid vertel het hoe skenkers ook sy lewe gered het ná ‘n motorongeluk waarin hy veelvuldige beserings opgedoen het, en vir 4 weke in ’n geïnduseerde koma was. ‘n Groep poging van verskeie skenkers wat saam met die hospitaalpersoneel, genade van Bo en die ondersteuning van sy vrou hom deurgedra het. Drie en twintig jaar na die ongeluk leef hy ‘n vol lewe van dankbaarheid. Dankbaarheid vir ‘n tweede kans om te kon sien hoe sy kinders hul skool en universiteitsopleiding voltooi.

Wynand Serfontein wat erkenning gekry het vir 175 eenhede bloed wat hy geskenk het, saam met Nomvula Mpinga van die SANBD. Skenkersbloed het ook vir hom ‘n tweede kans op lewe gegee ná ‘n ernstige motorongeluk. 

“Julle het  bygedra dat ek vandag hier kan staan. Dit is geen geringe bydrae nie. Dit was my kans op lewe.”
Dankie aan elke skenker wat hierdie opoffering vir hulle in nood maak.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button