News

Ngwathe Warriors: Jy kan Saterdag help om ’n verskil te maak

Bring jou eie handskoene, iets om te drink en een of twee swartsakke. Daar word beoog om teen 13:00 klaar te wees. Jy kan ‘n verskil maak!

Elke week sien jy die span van Ngwathe Warriors aan die werk om die dorp se hoofstraat en by die rivieroewer skoon te hou. Maar vir ‘n geruime tyd al word daar ook danksy die toewyding en inisiatief van Braam Cilliers en die Ngwathe Warriors in die dorp se ou begraafplaas skoongemaak.
Dinsdag was reeds die vierde keer dat daar in die begraafplaas gewerk is, en is die laaste gedeelte van die eerste blok skoongemaak.
Die skoonmaak van die begraafplaas word gedoen soos wat daar geld beskikbaar is, tussendeur hul weeklikse skoonmaakaksie.
Donateurs uit die gemeenskap help daarmee, terwyl Braam self ook gedeeltelik bydra. ‘n Handjievol mense wat ‘n passie het vir die dorp, en hul tyd en bydraes gee om vullis uit ons strate te kry.
Hierdie ongelooflike projek word al vir jare deur Braam Cilliers met die hulp van borge volgehou en verdien beslis ‘n pluimpie vir die sukses wat reeds behaal is. Die begraafplaas is egter groot en sal dit heelwat tyd neem om regdeur skoon te maak. Daar word tans met ‘n borg gesels oor onkruiddoder wat kan help om onkruid te beheer. Daar is ook ‘n groot behoefte aan ‘n bossiekapper wat die skoonmaak in die begraafplaas sal vergemaklik.

Wil jy nie betrokke raak nie? Elke bydrae help. Selfs al stel jy jou tuinwerker vir ‘n dag beskikbaar om te kom help.
Onthou ook dat dit World Cleanup Day is hierdie Saterdag, 17 September. Kom self, stuur jou tuinwerker of gee ‘n donasie – enige iemand is welkom om Saterdag vanaf 09:00 by die skeepsvraghouers (containers) op die h/v Breë- en St Janstraat bymekaar te kom.
Bring jou eie handskoene, iets om te drink en een of twee swartsakke. Daar word beoog om teen 13:00 klaar te wees. Jy kan ‘n verskil maak!
As jy navrae het oor Saterdag se skoonmaak of die begraafplaas se skoonmaak, skakel Paul Noomé by 084 209 6327 of Braam Cilliers by 072 779 4079.

Related Articles

Back to top button