News

Helpende Hand lei 50 versorgers op

Solidariteit Helpende Hand het vanjaar 50 versorgers opgelei om ‘n verskil te maak in die lewens van mense wat versorging benodig. Dit is die tweede jaar wat Helpende Hand sy geakkrediteerde versorgingsopleiding saam met Gratia Via Akademie aanbied. Altesaam 17 studente het in 2021 dié program suksesvol voltooi en die meeste kandidate is vinnig in …

Solidariteit Helpende Hand het vanjaar 50 versorgers opgelei om ‘n verskil te maak in die lewens van mense wat versorging benodig. Dit is die tweede jaar wat Helpende Hand sy geakkrediteerde versorgingsopleiding saam met Gratia Via Akademie aanbied. Altesaam 17 studente het in 2021 dié program suksesvol voltooi en die meeste kandidate is vinnig in die versorgingsbedryf opgeraap.
Die 50 studente wat vanjaar se kursus voltooi het se dienste is ook reeds hoog in aanvraag.
Volgens Hannes Noëth, Helpende Hand se uitvoerende direkteur, is daar die afgelope paar jaar ‘n groeiende behoefte aan tuisversorgers en daarom het Helpende Hand besluit om die opleidingsprogram aan te bied.
“Wanneer jy die woord ‘versorger’ hoor, dink jy dadelik aan die woord ‘omgee’. Dit is egter eers wanneer ‘n mens self ʼn versorger nodig het, wat die woord ‘n ander betekenis kry”.
“Dan word ‘versorger’ nie net ‘n woord nie, maar ‘n persoon. ʼn Versorger word soos ‘n engel uit die hemel gestuur vir diegene wat nie self kan eet of omdraai nie, en wat versorg moet word. Jy as versorger maak vir sterwendes die juk ligter, en vir siekes die pyn draagliker. Vir swakkes word jy die krag en vir ‘n arm of been wat nie meer wil werk nie, tree jy in as die hand of voet. Vir ’n verslae gemoed word jy die musiek. Jy is die versorger, die een wat omgee,” het hy gesê.
Noëth het gesê die professie van versorging is nie ‘n geringe taak nie, dit is ‘n gewigtige roeping waarin die verantwoordelikheid van omgee aanvaar moet word.
“Die beroep is onmisbaar in ons samelewing. Vir die versorger kan dit voel of die liefdeswerk ongesiens verbygaan, maar vir die een wat versorg word, is hierdie omgee in liefde nie vanselfsprekend nie. Dit is die lewensaar na gewone en normale dinge. Daarom is dit vir Solidariteit Helpende Hand so belangrik om versorgers op te lei – nie net om gewone mense vaardig te maak vir ‘n werk nie, maar om ‘n liefdesroeping te vestig. Om ʼn versorger te wees, is kosbaar, spesiaal, noodsaaklik en ‘n besondere roeping,” het Noëth afgesluit.
Dr. Elsha Hermann, Helpende Hand se hoof van navorsing, programme en opleiding, het voornemende versorgingstudente aangemoedig om aansoek te doen vir die volgende opleidingsprogram wat in Februarie begin.
“Die persoon wat hierdie beroep volg, is ‘n besonderse hartsmens met ‘n omgee-hart, ‘n geduldige hart, ‘n opregte hart. Elke versorger moet ook ‘n kop-mens wees – ‘n nugter denker wat oor wysheid, onderskeidingsvermoë en lankmoedigheid beskik,” het sy gesê.
Studente wat die kursus suksesvol voltooi, kan as tuisversorger of versorgingshulp in tehuise of residensiële instansies in diens geneem word. Hulle kan ook privaat werk onderneem, of hulself verder as ʼn au pair of doula bekwaam, of selfs palliatiewe sorg verrig.
Die kursus word oor ‘n tydperk van ses maande in Pretoria en Bloemfontein aangebied, waartydens teorie en praktiese sessies afgewissel word.
Kostes vir die opleiding beloop R10 000 per student en sluit die kursusmateriaal en ‘n uniform in. ‘n Beperkte aantal rentevrye studielenings is beskikbaar; dit word aan die hand van bepaalde kriteria toegeken. Kandidate sal ‘n streng keuringsproses ondergaan om daarvoor te kwalifiseer.
Die publiek word ook aangemoedig om hulpbehoewende versorgingstudente te borg.
“Deur een student vir die kursus te borg, voorsien jy iemand van ‘n tersiêre kwalifikasie en ‘n werk.”
Besoek www.helpendehand.co.za/versorging/ of stuur ‘n e-pos aan
opleiding@helpendehand.co.za

Related Articles

Back to top button