News

Emigrasie: Help jou kinders om makliker aan te pas

Emigrasie is ’n groot stap met verreikende  gevolge.

 

Die besluit om te emigreer, is nie net sommer ‘n besluit wat jy vandag neem en volgende week klim jy op die vliegtuig nie. Wanneer julle as gesin emigreer, raak dit redelik ingewikkeld en is dit belangrik om te sorg dat almal gemaklik is met die verandering, want nie net moet julle aanpas in ’n nuwe omgewing en land nie, julle gaan waarskynlik ook familie en vriende agterlaat. Skielik is daardie ondersteuningsnetwerk van oumas en oupas, vriende en so meer nie meer daar nie – iets wat ’n mens eers regtig waardeer as jy daarsonder moet klaarkom – en dit het dan ook dikwels ’n impak op ’n mens se geestesgesondheid. Afrikaans.com het praktiese wenke saamgestel oor hoe om die proses so maklik moontlik vir almal, maar veral jou kinders, te maak.

 

  • Kommunikasie. Emigrasie kan traumaties wees vir kinders. Gesels met jou kinders. Waaroor voel hulle onseker? Waarna sien hulle uit? Is hulle bang, dalk hartseer of selfs kwaad?
  • Wees eerlik. Jou kinders het waarskynlik sekere verwagtinge van hulle nuwe blyplek, skool en die mense wat hulle gaan ontmoet. Jy as ouer het dalk nie die antwoorde nie. Daarom is dit belangrik om nie onnodige verwagtinge te stel nie.
  • Fokus op die positiewe en potensiële groei wat moontlik gaan plaasvind. Plaas nuwe uitdagings in perspektief.
  • Keuses. Gee jou kinders die geleentheid om self te kies – dit kan iets eenvoudig wees, soos om hulle slaapkamer in die nuwe huis te kies of om te besluit waar julle gaan vakansie hou. Dit laat hulle deel voel van die proses en plaas ook gedeelde verantwoordelikheid op hulle oor die uitkoms van julle nuwe lewe.
  • Roetine. Kinders voel veilig as hulle weet dat alles onder beheer is en dat hulle steeds elke aand op dieselfde tyd eet, ’n sekere tyd bed toe gaan en soos altyd Saterdae winkel toe gaan.
  • Taal is ’n anker. As die kinders ’n tweede of derde taal in hulle nuwe land moet aanleer, of dalk hulle tweede taal moet opskerp, is dit raadsaam om voor julle vertrek taalklassse by te woon. Probeer egter om nie die kind se moedertaal af te skeep nie, want dis deel van hulle identiteit. As dit Afrikaans is, praat dit soveel moontlik tuis. Kinders is egter geneig om die taal in die nuwe land vinnig aan te leer sodat hulle kan inpas. Hulle moet egter daarop gewys word dat om te trek nie jou menswees verander nie.
  • Kultuur. Dit is goed om deel te word van ’n nuwe kultuur, maar moenie jul eie tradisies afskeep nie. Bly op hoogte van gebeure in Suid-Afrika en bespreek dit.
  • Behou kontak. Dis belangrik om te voel dat ’n mens steeds deel is van ’n familie. Gelukkig maak die hedendaagse toegang tot tegnologie hierdie proses makliker. Doen die moeite  – dit is werklik die moeite werd en beteken so baie  – veral vir die oumas en oupas.

Emigrasie is ’n groot stap met verreikende  gevolge. As jy egter besluit het om jou wortels op te trek en in ’n ander land te gaan woon en jou kinders daar groot te maak, is dit nodig om aan te pas en in te pas. Raak deel van die kultuur van jul nuwe land, leer meer oor die tradisies en gewoontes – maar koester jou herinneringe, want dit sal altyd deel wees van jou identiteit.

 

Lees die volledige artikel op Afrikaans.com se Leerhulpblad onder Algemeen-Artikels. Julle gaan emigreer. Help jou kinders om makliker aan te pas.

 

Related Articles

Back to top button