News

Hoërskool Parys se tannie Ellie sterf

Ons innige medelye met haar familie

Tannie Ellie Coetzee (Eleanor Coetzee) wat vir soveel jaar ‘n deel was van Hoërskool Parys, is op 3 September ná ‘n lang siekbed van 6 weke aan hartversaking in die Potchefstroomse Medi-Clinic oorlede. Sy was 85.

Ek onthou nog die dae toe sy daar in die skoolkantoor was. Jy kon haar altyd deur ‘n ring trek – pynlik netjies, op haar pos met daardie mooi, innemende glimlag.

En dit was hier waar sy afgetree het ná 48 jaar in die onderwys – ‘n pad wat sy al begin loop het toe sy nog in matriek was, by die destydse Skoolraadskantoor in Parys waar sy begin werk het.  Sy is net terug skool om haar laaste eksamenvak te skryf.

Hoërskool Parys het altyd ‘n spesiale plek in haar hart gehad. Haar alma mater waar sy self skoolgegaan het.

In 1959 trou sy met Pieter Coetzee, ook ‘n oudleerling van die skool, en is die egpaar met twee kinders geseën – Etienne en Arina.  Maar in Junie 1989 is Arina oorlede en stig tannie Ellie ter nagedagtenis aan haar, die Arina Coetzee-trustfonds wat  in die behoeftes van behoeftige leerlinge van die skool sou voorsien.

In April 1974 word tannie Ellie aangestel as klerklike assistent by Hoërskool Parys. Met die grootste presiesheid het sy haar werk gedoen, en moeë onderwysers en veeleisende leerlinge met ewe veel empatie behandel. Sy was bekend vir haar presiese tikwerk, maar ook bemind vir haar fyn humorsin,  en vrolike laggie.

Haar vermoë om bykans enige telefoonnommer in die boek te kon memoriseer, was verstommend – só ook hoe sy twintig dinge gelyk kon doen, na almal se klagtes en kwellings kon luister –  en alles te kon onthou wat almal vergeet het.

By die NG Wes-kerk was sy ‘n ware staatmaker – op die kerkraad, by die bybelstudie, sending, maar ook veral by die basaars. Haar pannekoeke was legendaries en selfs wanneer ander die kuns van brei geleer moes word, was tannie Ellie op haar pos by die kerksaal.

Haar grappies en innemende geaardheid was so deel van haar.

Hoërskool Parys en die gemeenskap sal haar met net die mooiste herinneringe onthou.

Die begrafnisdiens vir tannie Ellie is op Donderdag 8 September om 14:00 vanuit die NG Parys-Wes gemeente.

Tannie Ellie word oorleef deur haar seun, Etienne, skoondogter Anne-mari, kleinkinders Edzhard en Edtmari, aangetroude kleinkinders Corné en Annette, en haar agterkleinkind Elzé.

Related Articles

Back to top button