News

Angie Oeh met ys gegooi in Potch

Enkeles in die gehoor het tydens haar optrede aanhoudend ys na die verhoog gegooi en ook kru gebare en taal na haar gemik.

Die omstrede kletsrymer, Angie Oeh, het uit ontsteltenis van die verhoog geloop na haar optrede by Rocking Potch hierdie afgelope naweek, nadat sy met ys gegooi en gevloek is.

Drie ander kunstenaars het ook nie opgetree nie.

Angie Oeh.

Rocking Potch het by Boys High van 25 tot 27 Augustus plaasgevind. Baie toeskouers was die Donderdag teleurgesteld toe hulle eers by die konsert moes uitvind dat die bekende rockgroep, Fokofpolisiekar, nie dit kon maak vir hulle tydgleuf nie, omdat hulle vlug vir meer as 9 ure vanaf Kaapstad na Johannesburg vertraag was.

“Dit sou ons eerste Potch show in jare wees. Dit is nie SA Concerts of ons skuld nie,” vertel die 19 jaar oue band ontsteld op hulle Facebookblad.

Opgewonde studente was verder teleurgesteld dat Brendan Peyper ook nie die Donderdag kon optree nie omdat hy siek afgeboek was.

Die Saterdag het vir baie oproer gesorg met Angie Oeh, wat deel van die kunstenaars vir die dag was. Enkeles in die gehoor het tydens haar optrede aanhoudend ys na die verhoog gegooi en ook kru gebare en taal na haar gemik. Sy het vir ‘n geruime tyd haar nie gesteur daaraan nie, totdat ‘n jong man aan die voorkant van die gehoor wat ook besig was om ongepaste gebare en woorde vir haar te skree haar aandag getrek het. Sy het hom voor almal gekonfronteer deur te vra “Het jy ‘n probleem met my?” en het daarna haar optrede summier gestop en van die verhoog afgeloop nadat sy Potchefstroom bedank het.

“Hou op ys gooi guys, daai sh*t maak seer,” het Angie Oeh genoem voor sy van die verhoog af geloop het terwyl die skare haar uitgejou het.

Angie Oeh het daarna na die man toe geloop en ‘n woordewisseling met hom gehad in die gehoor waarna die sekuriteit haar oortuig het om te verdaag. Die gehoor is daarna gevra om nie ys na kunstenaars te gooi nie en verder was daar nie weer enige insidente nie. Early B kon ook nie sy optrede doen as gevolg van “omstandighede buite Rocking Potch en SA Concerts se beheer” nie.

Jan-Harm Steenkamp, organiseerder van SA Concerts, het op die Herald se navrae oor die insident genoem dat Angie Oeh se vertoning volgens SA Concerts se wete nie kortgeknip was nie.

“Haar toegewysde vertoning was slegs die 20 minute wat sy op die verhoog was. Ons kan geen verdere kommentaar lewer nie,” noem Steenkamp.

Ten spyte van ‘n paar terugslae vir Rocking Potch, het hierdie fees steeds baie genot vir studente en jong mense gebring. Dit het ook nuwe geleenthede geskep vir enkele NWU studente. Villagers manskoshuis se eie Stephan Fourie (primaria) en Vivien Redelinghuys het opgetree by Rocking Potch. Hierdie duo tree gewoonlik op by Texas en het daardeur die geleentheid gekry om by hierdie musiekfees op te tree. “Dit was ‘n baie groot eer gewees om saam met een van my beste pelle voor ‘n klomp mense te kon optree”, vertel Stephan, die prim van Villagers.

NWU studente en Villagers inwoners, Stephan Fourie (prim) en Vivien Redelinghuys wat optree by Rocking Potch. Foto: Verskaf

Rocking Potch sal oudergewoonte weer volgende jaar terug wees , en aanhangers van die verskeie kunstenaars is hoopvol dat dit met minder struikelblokke sal plaasvind.

https://potchefstroomherald.co.za/112757/angie-oeh-met-ys-gegooi-in-potch/

Related Articles

Back to top button