News

Vrese en kommer oor effektiwiteit van bek-en-klouseer verbod

Of die verbod genoeg van owerheidskant af is om die bedryf te beskerm, is ‘n ope vraag,

Óf die skielike en drastiese stap om ‘n 21 dae nasionale verbod te plaas op die verskuiwing van beeste, die vlaag van uitbrekings van bek-en-klouseer in verskeie van die land se provinsies onder beheer gaan bring, word ernstig deur kommersiële veeboere bevraagteken.
Die vraag word gevra of die energie wat spandeer word aan bioveiligheid, nie spandeer moet word om die bron van die siekteverspreiding te identifiseer, en óf ‘n fokusverskuiwing oor staatsbeheerde inenting dalk nodig is.
Die nasionale verbod op die verskuiwing van beeste is Dinsdag, 16 Augustus deur die minister van landbou en grondhervoming Thoko Didiza, aangekondig, en sal ná verstryking van die 21 dae tydperk, weekliks heroorweeg word.
Die verreikende implikasie van die verbod beteken dat boere nie nou hul vee kan skuif na beter weiding nie, gereelde maandelikse en weeklikse veilings nie gehou kan word nie, en die verskaffingsketting van beesvleis erg ontwrig word.
Boere wat die verbod oortree kan strafregtelik vervolg word, en kan vee nou slegs met ‘n veeartspermit na ‘n geregistreerde slagpale, of vir rituele slagtings vervoer word wat weer bykomende druk op veeartse plaas.
Uitbrake van die siekte is reeds in die KwaZulu-Natal-, Limpopo-, Noordwes-, Gauteng-, Mpumalanga- en Vrystaat provinsies aangemeld. Hoewel ander spleethoewige diere soos varke, wild en skape ook die siekte kan opdoen, is die verbod slegs op beeste van toepassing. Daar is wel gevra dat die verskuiwing van ander diere met gesplete hoewe met omsigtigheid gedoen moet word, en diere met simptome nie geskuif moet word nie.
Maar volgens Victor Lourens van Rock Valley in die Potchefstroom-distrik, waar die eerste positiewe geval buite die buffersone (surveillance zone) aangemeld is, is dié skielike verbod vyf maande ná die eerste positiewe toets, nutteloos. Hy meen toe daar aanvanklik druk geplaas is teen ‘n verbod op verskuiwing van beeste om finansiële verliese, en die verlies aan uitvoere na China te beperk, die stryd eintlik al verloor is. “Veeboere in die binneland is onkant gevang. Ons ken nie die siekte nie, en het dit heeltemal onderskat. Dit versprei soos ‘n veldbrand sonder simptome.”
Veeartse beaam dat tot 50% beeste wat klinies of subklinies die siekte het, draers kan word. Lourens vertel dat die siekte by sy Beefmaster kudde uitgebreek het nadat besmetting versprei het vanaf ‘n buurman wat vee van Limpopo af gebring het.
Die eerste onraad wat vermoed is, is toe van sy beeste kondisie begin verloor het. Van die kenmerkende simptome – slym om die bek, sere in die bek en op die kloue, is min gesien. Eers ná daar as laaste moontlikheid vir ‘n diagnose getoets is vir bek-en-klouseer, was die uitslag positief.
Net drie van die agt beeste wat getoets is, het sere in die bek gehad. Lourens sê 90% het nie simptome getoon nie, en was ook nie kruppel nie.

Slym en sere in die mond kan hier gesien word by een van die beeste wat positief getoets is vir bek-en-klouseer. Foto: Verskaf

Hy sê dat die verbod op die verskuiwing van beeste dalk nie die verspreiding gaan stop nie, maar eerder die regering geleentheid gee vir ‘voorraadopname’. Toetsing by Onderstepoort is agter en daar moet dringend vasgestel word of die bron van die siekte Limpopo, of dalk Botswana kan wees, meen hy. Hy glo ook waar enting tans net deur die staat gedoen word, die enigste oplossing met enting is, deur veeboere toe te laat om dit self te kan doen.
Voorheen het sporadiese bek-en-klouseer gevalle slegs in die Limpopo- en KwaZulu-Natal provinsies voorgekom in die sogenaamde buffersones om endemiese gebiede, en is dit ook waar die laaste uitbrake in 2019 was. Omdat daar by weinig van die beeste sigbare simptome was, vermoed boere nie besmetting nie, en laat dit weer die vraag hoe effektief ‘n verbod op verskuiwing kan wees. Sedert die eerste positiewe toetsresultaat onder sy kudde op 18 Maart, bykans twee weke nadat die eerste simptome gesien is, is positiewe gevalle in sy kudde ná baie onderhandelinge met die regering nie van kant gemaak nie, maar die kudde onder kwarantyn geplaas, wat steeds geld.
Die kudde is nou reeds twee keer geënt, en kan daar teen November, 180 dae na die eerste enting, weer begin word om by ‘n geregistreerde abattoir te slag. Hy moet ook steeds gereelde toetsing doen en as die toetse negatief bly, kan die kudde ná twee jaar bek-en-klouseer vry verklaar word.
Vir Lourens is die toetsing en kwarantyn steeds beter ter wille van die behoud van genetika en minder finansiële verlies.
Nuutgebore kalwers in ‘n kudde waar daar ‘n uitbraak was, word nie geënt nie, en kan lewendig bemark word as hul bek-en-klouseer vry toets.
Hoe die siekte die bedryf werklik raak, verskil van boer tot boer, sê Vicky van der Westhuizen van die plaas Weiveld, wat ook ‘n voerkraal bedryf. Voerkrale wat reeds speenkalwers gekoop het met die oog op die gunstige Desember-mark, behoort minder geaffekteer te word, terwyl ander wat weens die verbod nie nou kan vee inkoop nie, slegs slagtings kan doen.
Kommersiële veeboere aan die ander kant wat nou moes kalwers speen, moet weens die verbod hul langer dra, terwyl weiding ‘n uitdaging kan word.
Volgens Geo Olivier, ‘n kommersiële veeboer van die Parys-distrik, is hulle bekommerd oor hoe owerhede die verbod polisieer en oor hoe ingelig gemeenskapsboere en opkomende boere is. Veeboere vrees juis die gevolge van onkunde.
Vir hom is dit ook onduidelik hoe gemaak met bulle wat nou geskuif moet word met die dekseisoen wat voorlê. Gazette kon intussen vasstel dat daar vergunning gemaak kan word vir die skuif van vee vir weiding en met die oog op die dekseisoen, maar moet ‘n spesiale vorm voltooi en ‘n eienaarsverklaring gemaak word. Die diere moet ook meganies geskuif word en kan nie aangejaag word nie
Hennie Viljoen van die plaas Vlensburg in die Weiveld-distrik, wat hoofsaaklik met Simmentalers en Simbras boer, is van mening dat die uitroei van die siekte vir die regering prioriteit moet wees, maar is daar nou meer vrae as antwoorde.
Van die grootste onsekerheid is oor die serotipe wat verantwoordelik is vir die huidige uitbrake. Private en staatsveeartsbronne bevestig dat die jongste uitbrake in die Limpopo-, Noordwes-, Vrystaat- en Gauteng provinsies verwant is, en getipeer word as die SAT3 stam van die virus. Die Natal uitbrake daarenteen is veroorsaak deur die vroeëre uitbrake van die SAT2 stam wat begin het in die noorde van Natal, en verder suid versprei het.
In die Parys-distrik is nog geen gevalle aangemeld nie, en is die naaste bevestigde gevalle 40km van Parys. Sou daar wel ‘n uitbraak in kommune weidings areas of elders aangemeld word, is die protokol dat ‘n buffersone geskep moet word met verpligte kwarantyn binne ‘n 10km radius vanaf die bevestigde geval. Die huidige verbod op die verskuiwing van vee sluit ook vervoer van vee oor landsgrense in.
Baie boere vrees dat bek-en-klouseer uitbrake hul boerderye tot stilstand kan bring, en hul selfs finansieel kan ruïneer. Ook afslaers en vee vervoerkontrakteurs steier onder die gevolge van die verbod. Maar óf die verbod genoeg van owerheidskant af is om die bedryf te beskerm, is ‘n ope vraag, Aan die positiewe kant word navorsing wel gedoen met nuwe entstofbereidings, en bly die hoop dat daar in die toekoms ‘n effektiewe entstof gekry kan word wat boere self kan toedien om veepopulasies te beskerm en verspreiding te beperk.

You can read the full story on our App. Download it here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button