News

Selfoon-swendelaars kul groot geld uit niksvermoedende slagoffers

MTN-gebruikers wat vermoed dat hulle slagoffers van dié soort bedrog was, word deur MTN aangeraai om 135 vanaf hul MTN-selfoon te skakel.

Opdatering: Die berig hier onder het in die Gazette se susterkoerant Vaalweekblad se uitgawe van 10 Augustus 2022 verskyn. Verskeie inwoners van die Vaaldriehoek het daarna gerapporteer dat hulle OOK slagoffers van die uiters geloofwaardige selfoon-swendelaar was. Mense uit ander dele van die land het waarskynlik ook in die swendelaar/s se slagyster getrap. Die totale geldelike verliese is dus na raming veel meer as die R80 000 waarvan Vaalweekblad aanvanklik geweet het…

Die FBI in Amerika rapporteer dat daar sedert die begin van 2020 tot nou, ‘n toename van 400% in kubermisdaad aangeteken is. Dit is egter nie net die Amerikaners wat deurloop onder sulke misdasigers nie. Dit blyk dat Suid-Afrikaners wat sedert die begin van die Covid-inperking toenemend van gerieflike selfoon-bankdienste gebruik maak, ook al meer die slagoffers van hartelose “sosiale ingenieurs” word.

In ‘n steekproef wat Vaalweekblad die afgelope weke onder ons Facebook-lesers gedoen het, blyk dit dat minstens tien inwoners in die afgelope drie maande van gesamentlik sowat R80 000 deur skelms wat hulle as MTN -verteenwoordigers voorgedoen het, besteel is. ‘n Verdere 11 Vaaldriehoekers het gerapporteer dat hulle ook deur die skelms geteiken is, maar betyds onraad vermoed en die oproep beëindig het voordat enige skade gedoen is.

“My man was so oortuig van die beller se goeie bedoelings dat hy toe wel die OTP vir hom gegee het. Die man het ‘n tweede keer gebel en gesê die OTP het nie deurgegaan nie en nóg ‘n OTP gevra, wat my man toe ook gestuur het. Die man het daarna nog ‘n paar keer gebel maar ons het teen daardie tyd bedenkinge begin kry en die oproepe geïgnoreer. Toe ons later die nommer bel van waar die ou geskakel het, het ‘n stem net gesê die nommer bestaan nie. Dit toe daar gelaat.

“Einde Mei het Santam ‘n SMS gestuur dat ons premie weens onvoldoende fondse nie soos gewoonlik van ons rekening afgegaan het nie en dat hulle in Junie ‘n dubbelpremie sou aftrek. Dis toe die eerste wat my man bewus word van die probleem want hy weet dat daar heeltemal genoeg geld in daardie rekening is vir al sy maandelikse aftrekkings. Toe hy op sy Absa App na sy state kyk, sou hy sien dat MTN ‘n debietorder van R19 600 gehef het in plaas van sy gewone R300 maandelikse selfoonrekening. Dit was ‘n groot slag vir ons. Ons het dadelik besef dat dit daai oproep was!

“My man is toe dadelik MTN toe maar hulle kon dit maar net bevestig en het skouers opgetrek omdat my man die fout gemaak het om die OTP wat na sy selfoon ge-SMS is, vir die skelm te gee. Absa se bedrogafdeling het op grond van my man se eerlikheid oor die OTP die geld teruggeskryf, maar hy moes toe op sy eie iets met MTN gaan probeer uitwerk want hy skuld hulle nou die R19 600. Hy het toe MTN toe gegaan en gesê hy kan R200 per maand afbetaal, wat omtrent agt jaar gaan neem! Die skelm was so oortuigend, maar dis ‘n duur les. Die wêreld is vol skelms,” sê Elaine.

Me. S.M. sê ‘n soortgelyke terugslag het haar bejaarde ma getref: “Ongelukkig het sy reeds die OTP vir die mense gegee want sy is nie clued up met dié soort goed nie. Hulle het haar limiet opgesit met R11 000. Sy moes polisiestasie toe gaan en toe weer daardie getekende dokumente aan MTN stuur sodat hulle dit van haar rekening kon afhaal. Gelukkig het sy toe nie nodig gehad om daardie bedrag te betaal nie. Maar ja, mens moet versigtig wees,” sê sy.

Lees die volledige berig op die Vaalweekblad se webwerf hier:

Selfoon-swendelaars kul groot geld uit niksvermoedende Valies | Vaalweekblad

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button