News

Twee van Parys draf uit vir SA in Engelse en Franse kragmeting

Parys is trots op hierdie twee jongmanne

Twee seuns van Parys sal môre, Vrydag, 19 Augustus, en ook 23 en 27 Augustus vir die SA skolerugbyspanne op die veld draf in hul kragmeting teen die Engelse en Franse.
Naas Lukas Meyer, oor wie Gazette vroeër berig het, is Reno Hirst ook in die SA o.18 skolespan ingesluit wat aan die internasionale rugbytoernooi in Kaapstad sal deelneem.
Reno was ‘n leerder van PCS en Parys Primêr waar hy eintlik eers in graad 5 regtig begin rugby speel het. In sy graad 6 jaar word hy gekies vir die Valke o.12-span, en ontvang hy in daardie jaar ook die trofee as Speler van die Jaar.
In graad 7 word hy gekies om die Valke by die Cravenweek in Bloemfontein te verteenwoordig.
Hy begin daarna sy hoërskoolloopbaan aan die Hoërskool Tranvalia, en draf vir al die ouderdomsgroepe se A-spanne, asook vir die skool se eerstespan op die veld. In 2019 is hy ook ingesluit in die o.15’s Sewes-span.
Einde 2020 het Paul Roos Gimna- sium begin belangstelling toon in Reno, en is hy in die tweede kwartaal van sy graad 11 jaar (2021) sak en pak Stellenbosch toe.
As nuweling het hy by hul vierde span begin, en homself opgewerk tot by die eerstespan.
Weens ‘n paar ligte beserings is hy nie gekies om die WP by die Cravenweek te verteenwoordig nie, maar toe kom die goeie nuus dat hy ingesluit is in die SA skolerugbyspan, wat die kroon span op sy harde werk op die veld.
Van Suid-Afrika se rugbykenners is van mening dat hy een van die beste vaskopstutte op skoolvlak is, en was hy aan die voorpunt van ‘n baie suksesvolle Paul Roos eerstespan, met hul oorwinnings teen skole soos Paarl Gimnasium en Grey High.
‘n Speler wat die fisiese kompetisie in die skrum geniet, maar ook die tegniese aspekte van die lynstaan. Sy skrumwerk benader hy met beide tegniek, brute krag en ervaring wat hy deur sy laaste twee jaar by Paul Roos gekry het.
Teen 125kg en 195cm is dié stewige en gespierde blits wat ook ‘n groot gunsteling onder sy spanmaats is met sy sin vir humor, dinamies en aggressief wanneer hy die bal dra, en duikslae met gemak breek. Eienskappe wat die oog van die SA Skole-keurders gevang het. En sy rolmodel – Os du Randt (natuurlik).
Reno is die seun van Renske en wyle Norman Hirst.
Só lyk die wedstrydbepalings
Vrydag, 19 Augustus:
13:00 SA o.18A’s vs Frankryk
15:30 SA o.18 vs Engeland
Dinsdag 23 Augustus
13:00 SA o.18A vs Engeland
15:30 SA o.18 vs Frankryk
Saterdag 27 Augustus
13:00 SA o.18A vs Frankryk
15:30 SA o.18 vs Engeland

Related Articles

Back to top button