News

Truter se stem stil, sy plek leeg

Die afskeidsdiens vir Truter is Vrydag 19 Augustus om 11:00 by Leopards & Lace in Stirling Road, Bloemfontein.

Truter Odendaal, wat vir jare in Parys gevestig was, en ‘n bekende sakeman in die dorp was, is vanoggend in die ouderdom van 62 jaar oorlede, in sy geboortedorp, Bloemfontein, nadat hy moedig teen melanoomkanker geveg het. In die laaste jaar het hy sy staal gewys om lewensuitdagings met ‘n glimlag die hoof te bied.  Desondanks sy stryd teen kanker het hy sterk gebly tot die einde toe.
Nadat hy vroeër by Parys Carpets was, begin hy in 2021 sy eie onderneming, Fit Triets,  en was hy trots op sy werk en geliefd onder sy kliënte.
Truter en Erna is in Oktober 2021 getroud, maar weens sy gesondheid het hulle vyf maande gelede na Bloemfontein verhuis om naby sy onkoloog te wees. Bloemfontein was vir hulle goed, en was hy baie gelukkig daar, het Truter kort voor sy afsterwe gesê.
Parysenaars sal Truter veral ook onthou vir sy pragtige, suiwer stem wat in baie kerke, kore en op vele funksies gehoor is. Hy het gesing vandat hy 5 jaar oud was. Musiek was sy groot passie.
Hy was ook baie lief vir motorfietse en het die voorreg gehad om al die roetes wat hy graag in sy lewe wou ry, te kon voltooi- die laaste  toe hy en Erna in die Laeveld getoer het.
Die natuur, voëls, tuinmaak, die see en die berge het hom bekoor.
 Hy was geliefd deur elkeen wat hom ontmoet het en die eenvoudigste plesiertjies in die lewe het hom groot vreugde gegee. Sy aangename persoonlikheid was aansteeklik vir almal wat hy ontmoet het,  en sal sy lag en sy humorsin onthou word.
“Al was ons ‘n kort tyd saam laat  hy ‘n geweldige leemte in my lewe,” het Erna gesê.
Truter was bly en dankbaar vir elke persoon van oral oor wat hom in Bloemfontein bly besoek het, of gebel het om vir hom te bid tot die einde toe. Selfs  vanuit Australië het hy oproepe gekry van sy sangmaats.
Truter se plek is leeg, sy stem stil, maar hy laat ‘n spoor van herinneringe by hulle wat hom liefgehad het en sal onthou.

Related Articles

Back to top button