News

Twintig uur deurnag spanwerk om krag te herstel

Dit was 'n spanpoging in koue en reënweer

Herstelwerk aan die 11MV kabel wat krag voer na ‘n gedeelte van die geel area vanaf die brandweer tot by die rivier, is net voor 10:00 vanoggend voltooi en kragtoevoer herstel. Dit nadat daar bykans 20 uur lank in die koue en selfs reën gewerk is om die herstelwerk te doen aan dié kabel, en die twee kabels wat met die oopgrou skade gekry het.

Die loodkabel waarvan die ligging nie vooraf bekend was nie, is beskadig deur die kontrakteur wat tans besig is met die veselkabel installasies vir Openserve.

Ongelukkig is die infrastruktuur van Ngwathe so oud dat ten spyte daarvan dat die kontrakteur met groot sorg hier gewerk het, dit nie voorsien kon word dat die kabel op die punt was waar dit raakgegrou is nie. Op die kabel is ‘n identifiseringsetiket met die datum  1970.

Nadat die kabel beskadig is om 14:00 Dinsdagmiddag 2 Augustus, is daar  onmiddellik begin om te reël vir die herstelwerk, en is die hulp van Energy Smart van Parys gekry.

Dit was ‘n spanpoging om die werk so gou moontlik te kon voltooi ten spyte van die koue en reën, en is daar dankbaarheid vir elkeen wat gehelp het om die span wat hier gewerk het, veral die vier mense wat deurnag aan die kabel gewerk het, te ondersteun.

Daar is regdeur die nag vir 20 uur lank gewerk om kragtoevoer te herstel na ‘n gedeelte van die dorp wat sedert Dinsdag sonder krag was

Dankie aan die Ngwathe munisipaliteit wat gehelp het met materiaal, Mica Parys wat na-ure oopgesluit het om te help met materiaal, We Care vrywilligers wat gehelp het om ‘n wakende oog te hou terwyl daar deur die nag gewerk is en ook gehelp het met ligte, Openserve wat gehelp het met ligte en ‘n kragopwekker, en die VF Plus vir die gazebo wat voorsien is toe dit begin reën het, asook enigeen wat moontlik hier op enige ander manier ondersteun en gehelp het, en dalk per abuis nie genoem is nie.

Hou asseblief in gedagte dat hoewel kragtoevoer weer herstel is, munisipale beurtkrag steeds van toepassing is, maar dat Parys nie, volgens die huidige tydskedule en fase, deur Eskom beurtkrag vandag of môre geraak sal word nie.

 

Related Articles

Back to top button