NewsNews

‘Hoe verduidelik jy die skade van beurtkrag aan ’n wêreld daar buite?’

“As ek my oë oopmaak in die oggend word ek nie rustig wakker nie. Alles draai rondom die horlosie en wanneer die krag sal af wees.”

Die Staycold-aanleg in Parys is een van min nywerhede wat nog oor is in die dorp se nywerheidsgebied. Dié aanleg het van 1 Januarie tot 17 Julie vanjaar oor die R7 miljoen se verlies gehad weens beurtkrag. Byna drie weke se produksie het verlore gegaan met 112,5 werksure wat die aanleg as gevolg van beurtkrag moes staan. En dit is nie net wanneer daar beurtkrag is, wat dit die nywerhede geld kos nie. Selfs wanneer beurtkrag nie volgens geskeduleerde tye toegepas word nie, of skielik en onvoorsiens toegepas word, is daar verreikende implikasies.
Lena le Roux, uitvoerende direkteur by Staycold, verduidelik dat wanneer Eskom skielik beurtkrag op die nippertjie instel of ophef, of selfs nie toepas op geskeduleerde tye soos verlede week die geval was, beteken dit dat werksure verloor word, omdat werksure juis met beurtkrag in gedagte beplan word. Wanneer die werksmag met beurtkrag vroeër huis toe gestuur word, kan die beplanning nie net skielik omgedraai en die aanleg weer voortgaan met produksie nie.
Oonde en baddens in die aanleg neem ‘n uur en ‘n half om tot die regte temperatuur te verhit.

Die oonde en baddens by die Staycold-aanleg vat langer as ‘n uur om tot op die regte temperatuur te verhit wat fyn beplanning verg vir die programering van aan- en afsittye tusssen beurtkrag.

Die oonde word geprogrammeer om op sekere tye aan te skakel, en telkens wanneer daar tussen beurtkragfases skielik verwissel word, moet die programmering van vooraf gedoen word.
Boonop vorm al die prosesse in die aanleg ‘n ketting waarvan een proses op die ander volg. Sou die krag onderbreek word, bring dit die hele aanleg tot stilstand en beïnvloed nie net produksie nie, maar ook die kwaliteit van produksie.
Danksy ‘n onvoorsiene kragonderbreking het dié aanleg die afgelope twee weke skade van R237 000 gehad met ‘n skuimkop wat beskadig is toe isolasiemateriaal gestol het in die spuitgedeelte van die kop. Die skuimkop is van die toerusting wat die meeste in die aanleg gebruik word om die isolasiemateriaal in yskasdoppe te spuit. Benewens die skade – drie dae wat produksie nie gedoen kon word terwyl gewag is op ‘n nuwe kop.
Die toerusting is baie sensitief en moet kalibrasie en druk 100 persent reg wees om die regte effek te kry. ‘n Kragonderbreking het ook ‘n invloed hierop.

Die spuitkop waarmee isolasiemateriaal in die yskasdoppe gespuit word, wat weens onvoorsiene beurtkrag beskadig is, toe materiaal in die kopgedeelte gestol het.

Van die vier CNC neomatiese masjiene in die aanleg staan een reeds waarvan die elektroniese bord skade gekry het weens beurtkrag.
Die staalsnymasjiene in die aanleg kry maklik skade met onvoorsiene beurtkrag as van die sny- en ponspunte in die staal vasslaan as kragtoevoer skielik onderbreek word. Dan gooi jy daardie staal weg, verduidelik Lena, en moet die punte wat vasgeslaan het, vervang word teen ‘n koste van tussen R700 en R1 500 per punt.

Een van die staalsnymasjiene wat groot skade kry wanneer die krag skielik onderbreek word tydens die sny- en ponsproses. Benewens die skade aan die masjien, word materiaal ook verloor as die proses skielik gestop word.

Só is al ‘n hele staalsnymasjien van R1,5 miljoen verloor.
Wanneer produksietyd verloor word, veroorsaak dit enorme druk op die maatskappy se kontraktuele verpligtinge, veral met die buiteland waar padvervoer en verskeping ook uitdagings van sy eie bring.
“Hoe verduidelik jy beurtkrag aan die buiteland vir ‘n maatskappy soos Pepsi,” sê Lena.
“As ek my oë oopmaak in die oggend word ek nie rustig wakker nie. Alles draai rondom die horlosie en wanneer die krag sal af wees.”

Related Articles

Back to top button