NewsNews

Oud-onnie en nog twee van Vaal skuldig aan moord op oud-Koevoetlid

Die analisering van selfoondata het die ondersoekers na die Vaaldriehoek gelei, waar me. De Beer op 24 Desember 2019 in verband met die saak in hegtenis geneem is.

Drie inwoners van die Vaaldriehoek, ‘n vrou en twee mans, is vroeër die maand in die hooggeregshof in Pretoria skuldig bevind aan die moord op die oud-Koevoetlid, Chris Barnard in Desember 2019.

Regter Papi Mosopa het op 8 Julie vir Corné de Beer (36), ‘n voormalige onderwyseres by ‘n privaatskool in Sasolburg, en haar twee Vaaldriehoekse vriende, Wayne van der Walt (38) en Richardt “Jagter” Botha (38), skuldig bevind op aanklag van moord, diefstal en bedrog.

Die vermoorde Chris was ‘n geskeide man wat as terreinbestuurder vir ‘n Amerikaanse sekuriteitsonderneming in Irak gewerk het. Gedurende die bosoorlog was hy in Namibië en Angola aan Koevoet, die Polisie se spesiale taakmag, verbonde. Hy het in 2006 in Bagdad in die Midde-Ooste begin werk en konvooie tussen Koeweit en die weermagbasis in Irak begelei. Hy het sedert November 2017 as sekuriteitsbestuurder in Irak gewerk.

Chris sou die Desembervakansie van 2019 in sy huis in Annlin, Pretoria deurbring terwyl sy suster en haar man, wat sy huis by hom gehuur het, met verlof in Mosambiek was. Hy het baie daarna uitgesien om ‘n vriendin wat hy op Facebook ontmoet het, me. Corné de Beer, in die Vaaldriehoek te kom haal om ‘n paar dae saam met hom in Pretoria deur te bring.

Gedurende dié tyd het hy ‘n selfie van hom en mej. De Beer aan sy familie gestuur, maar dit het daarna ‘n vreemde wending geneem toe ongewone WhatsApp-versoeke van sy selfoonnommer af ontvang is om groot bedrae geld tussen sy bankrekeninge te verskuif. Sy familie het agterdogtig geraak en ‘n vriend gevra om ondersoek by sy huis in Pretoria in te stel, waar gevind is dat die huis leeggesteel en geplunder was.

Daar was geen teken van Chris of sy voertuig nie. Sy familie het hom op 7 Desember 2019 as vermis by die Sinoville-polisiestasie aangemeld.

Duisende rand is glo na sy verdwyning uit sy bankrekening onttrek. ‘n Intensiewe soektog deur die polisie en die private ondersoekdiens van Mike

Bolhuis en Nolisat Investigations is op tou gesit. Die analisering van selfoondata het die ondersoekers na die Vaaldriehoek gelei, waar me. De Beer op 24 Desember 2019 in verband met die saak in hegtenis geneem is. Die arrestasie van die twee Vaaldriehoekse vriende, Richardt Botha en Wayne van der Walt, het op 30 Desember daardie jaar gevolg. Verskeie van die vermiste Chris se persoonlilke besittings en sy Jeep is in Vanderbijlpark in hul besit gevind. Al drie die beskuldigdes is selferkende dwelmgebruikers.

Chris se liggaam is eers in Februarie 2020 deur ‘n voetganger in die Pienaarsrivieromgewing, noord van Pretoria, ontdek.

Lees hier die volledige berig op die webwerf van die Herald se susterkoerant Vaalweekblad:

Oud-onnie en nog 2 van Vaal skuldig aan moord op oud-Koevoetlid | Vaalweekblad

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button