NewsNews

Harte vol omgee vir Vredefort se Hartshuis

Die Hartshuis verwelkom enige skenkings - of dit iets uit jou groentetuin is, ou lakens of handdoeke of sommer net ‘n kuiertjie - want soms is tyd meer werd as geld of goed.

Hier woon 35 mense en vyf inwonende vrywilligers wat hier help, soos een familie saam. Mense wat elkeen ‘n opdraande pad-storie het om te vertel.
‘n Jaar gelede het die Vredefort Hartshuis sy deure oopgemaak vir die nood van hulle sonder heenkome. Vandag is die 17 Nano (dwerg) huisies, en die huis op die perseel in De Wetstraat hul tuiste, want dit is hier waar hulle weer menswaardigheid kom kry het, en ‘n plekkie in die son.
Dit danksy die inisiatief van Zuanne van der Merwe, wat in die hart van die Vrystaat haar hart kom oopmaak het vir hulle wat ook die lewe se skadukant ken. Sy self het alles verloor op 50-jarige ouderdom, en weet wat dit is om niks te hê nie.
Maar dit is ‘n gemeenskap se harte wat hierdie plek aan die gang hou, sê sy. Wat gee wat hulle kan om te help, en daarvoor is daar oneindige dankbaarheid by haar en die inwoners van die Hartshuis.
Danksy ‘n R100 000 skenking van Dankie Lottoland kon daar in Junie 5 nuwe Nano-huisies opgesit word, en ‘n ablusiegerief en stoorkamer. Daar is ook R140 000 se meubels vir die Hartshuis geskenk deur Dankie Lottoland wat tien beddens en matrasse, sowel as beddegoed ingesluit het, matte, bedkassies en ‘n pooltafel, tafeltennistafel en veerpyltjieborde om die inwoners besig te hou, en ‘n eetkamerstel waar nou saam gesit en geëet kan word.

Die Hartshuis kry ook ‘n watertenk danksy die inisiatief van sakelui van Parys wat kragte saamgesnoer het om watertenks te borg vir verdienstelike organisasies.
Net verlede week nog was Vredefort drie dae sonder water, en was die waternood kritiek toe ‘n brand op die grond aangrensend tot die Hartshuis uitgebreek het. Tans het die Hartshuis net een 1 000 liter liter watertenk.
Sy het nog soveel planne vir die Hartshuis, vertel Zuanne. Sy wil ‘n waterherwinningsprojek begin om uiteindelik krag te bespaar, ‘n buitekombuis inrig omdat die kombuis in die huis te klein geword het, en ‘n groentetuin begin.

Sy het die pad saam met agt van hierdie haweloses al tydens die Covid-19 pandemie begin stap toe die kleuterskool waar sy betrokke was in Pretoria, tydens grendeltyd moes sluit, en maatskaplike werkers gevra het of haweloses hier tydelik gehuisves kon word. Toe die skool uiteindelik weer kon oopmaak, was daar vir hierdie haweloses geen heenkome nie, en het die nood haar hart geraak.
Toe sy in Maart 2021 by haar ma in Vredefort was, het sy besef dat sy hier ‘n tuiste kon skep vir mense met geen ander heenkome nie omdat eiendomspryse in die dorp nog bekostigbaar is. Die afgelope jaar het die getal bly groei van hulle wat hier ‘n heenkome vind.
Maar dis mense se harte wat die Hartshuis se deure help oophou, en daarvoor sê hierdie inwoners dankie. Die Hartshuis verwelkom enige skenkings – of dit iets uit jou groentetuin is, ou lakens of handdoeke of sommer net ‘n kuiertjie – want soms is tyd meer werd as geld of goed.

Related Articles

Back to top button