News

Baie is geleer uit dorp se nood; baie werk lê voor

In ‘n tyd toe Parys vier dae aaneen sonder krag en water was, het baie hande saamgewerk om die nood te verlig, en om die dorp te help veilig hou, want in stikdonkerte en met alarms buite werking, is misdaad eens so erg. Oorhoofse kragkabels is geknip, mini-substasies geplunder, en inbrake by besighede en wonings …

In ‘n tyd toe Parys vier dae aaneen sonder krag en water was, het baie hande saamgewerk om die nood te verlig, en om die dorp te help veilig hou, want in stikdonkerte en met alarms buite werking, is misdaad eens so erg. Oorhoofse kragkabels is geknip, mini-substasies geplunder, en inbrake by besighede en wonings het ernstige kommer gewek.
Maar uit dié krisis is waardevolle lesse geleer – die tekortkominge in noodplanne en toerusting, en inwoners wat grotendeels op hul eie aangewese was vir hulp, het geleer dat aksieplanne nodig is.
Hierdie situasie het Parys pynlik getref, en die dorp was nie gereed nie, sê WeCare se Wyand Nel. “Daar was nie enige/weinig hulp van die regering of munisipaliteit. Hulp is meestal verleen deur besighede, inwoners met boorgate, instansies, vrywilligers, mense van buurdorpe, kerke, sowel as die boeregemeenskap. Die situasie was selfs erger in Tumahole, wat tot onrus gelei het.”
Hy sê WeCare is al ‘n geruime tyd besig om ‘n ‘Joint Operations Command’ (JOC) op te rig as sentrale punt, of eenheid, onafhanklik van publieke dienste, waarvandaan verskeie instansies saam kan werk om meer effektief hulp aan die gemeenskap te verleen, maar dit sal beter organisasie, meer toerusting en heelwat meer hande verg om effektief te wees, sê hy.

Wat is geleer uit die krisis:
Kommunikasie
Selfoontorings was meestal buite werking, asook verskeie internetdienste wat kommunikasie bemoeilik het.
Hulpbehoewende gestremdes en bejaardes het meestal geen manier gehad om hulp te ontbied nie. Alarmstelsels, paniekknoppies en outomatiese hekke het nie gewerk nie. Ons het té afhanklik geraak van ons slimfone. Bure is nie meer so betrokke by mekaar nie. Daar was verskeie mense wat oor die hoof gesien is, terwyl hulp geredelik beskikbaar was. Mediese hulp was ook telkemale onbereikbaar. Die hospitaal se watertenks het gou leeg geword.
Veiligheid:
Sonder krag en kommunikasie, en met die protesaksie in dele van Tumahole, was die polisie onder groot druk en moes versterkingseenhede hulp verleen. WeCare patrolleerders en sekuriteitsmaatskappye het hul bygestaan.. Maar steeds was daar skade aan die kragnetwerk as gevolg van misdaad en inbrake by besighede en wonings. Baie hiervan is nie eens aangemeld nie, en was daar nie genoegsame data om vinnig misdaadpatrone te kon identifiseer nie. Gevolglik kon almal nie hul hulpbronne altyd effektief ontplooi nie. Daar was ook té min mense beskikbaar om genoeg patrollies vol te hou weens die druk om hulp te verleen, en die verhoogde aanslag van misdadige elemente.
Hande:
In die lig hiervan word die gemeenskap gevra om te help. Parys benodig heelwat meer oë en ore op die pad om die polisie se hande te sterk.

WeCare patrolleerders het gehelp om nood te verlig en die dorp te beveilig, en sê Wynand dankie vir die talle Parysenaars wat hul taak vergemaklik het met hul glimlagte en hande. “Ons is trots op wat ons handjievol patrolleerders kon vermag. Hul het daagliks water help versprei, en snags die dorp help beveilig op meestal hul eie onkoste, ook ten koste van hul eie gesinne se gemak.”
Hy sê WeCare het groot dankbaarheid teenoor almal wat mekaar bygestaan het met gewillige hande, kos, water, tyd wat beskikbaar gestel is, en veel meer. Daar was oorgenoeg hulpbronne op sommige plekke, en by ander plekke té min.
Daarom is dit nodig dat jy betrokke sal raak in jou buurt en in jou gemeenskap. “Dit is hoog tyd dat Parysenaars saamstaan in georganiseerde getalle om kriminele se toenemende wurggreep op die dorp hok te slaan.”
* WeCare is ‘n nie-politiese, nie-rassige nie-wins organisasie, wat nou saamwerk met die SAPD en deel is van die Gemeenskap Polisiëring Forum. WeCare werk ook ten nouste saam met verskeie ander nooddienste en hulpverlenings organisasies.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button