NewsNews

Kom maak jou tuis in ‘Ouma se huis’

Maak ‘n draai op Udolpho net buite Parys as jy weer hier naby is.

As jy nie nie onlangs op die FAK se Udolpho Rivierplaas net buite Parys was nie, is ’n besoek aan die plaashuismuseum hier beslis die moeite werd. Veral as herinneringe aan toeka se tye jou ná aan die hart lê. Tye toe daar nog pyp gerook is op die stoep, ‘n koppie Boeretroos in die hand en die reuk van varsgebakte brood wat syfer deur die koolstoofhortjies,
Ouma se huis is ’n lewende herinnering saamgestel uit erfstukke, en jare se versamel en bymekaarmaak.
Die ou plaashuis van Henning Klopper is deur die FAK in samewerking met die Erfenisstigting en verskeie belanghebbendes opgeknap en omskep in ‘n eg-Afrikaanse tuiste waar eeue oue tradisies beleef en herleef kan word.
Dit is moontlik gemaak danksy die hulp van Gys en Kobie Stroh van die FAK se Vaal-Kultuurnetwerk. Dit is juis die Ströh-egpaar se besondere liefde vir oudhede wat hierdie projek vir net meer as ‘n jaar gedryf het om uiteindelik die museum te kon open.
As jy aan museums dink as stowwerige, toegemaakte, ontoeganklike geboue, sal Ouma se Huis jou aangenaam verras. Dit is ‘n plek waar jy die luuksheid van oudheid beleef. Kosbare versamelstukke aangevul met meubels van die voormalige eerste minister JG Strijdom se huis in Modimolle (Nylstroom), wat ook aan die projek geskenk is.

Die Modimolle-Mookhophong plaaslike munisipaliteit in Limpopo het die meubels aan die FAK beskikbaar gestel volgens ‘n bruikleen-ooreenkoms.Daarmee saam is ook verskeie interessanthede uit die Strijdom-huis hier te sien waaronder die regsboeke van adv. Strijdom, sy besondere bottelversameling, sy oorspronklike staatstelefoon, tikmasjien en die doodskis wat hy laat maak het en toe nooit self in kon pas nie.
Maak ‘n draai op Udolpho net buite Parys as jy weer hier naby is. Toegang tot dié plaasmuseum is gratis.
Jy kan ook vir Jane du Plessis skakel by (056) 818 1197 of stuur e-pos vir haar na besprekings@fak.org.za as jy meer inligting nodig het.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button