News

Help ons – sit die glimlag van die dorp terug!

"Dit is skrikwekkend om te sien hoe mense rommel strooi"

Ongeveer 70 mense van  3 jaar tot 80 jaar, het vanoggend om 09:00 vurk en swartsak in die hand in Vredefort se strate reggestaan om skoon te maak. Reg te maak wat verkeerd is in hul dorp. En hulle het dit reggekry!

Tien groot vragte is weggery met by die 200 sakke vol vullis. ‘n Ongelooflike gemeenskapsinisiatief wat die jeug betrek het, en gedryf is deur die NG gemeente en Dinamika gemeentes in die dorp.

Danksy steun uit die gemeenskap en samewerking van die boere, is daar gehelp met gewillige hande, voertuie, ‘n trekker en sleepwa – maar meer nog met glimlagte om ‘n verskil te maak.

Dit was skrikwekkend om te sien hoe mense rommel strooi op elke oop spasie, sê ds. Johan Lotter, leraar van die NG gemeente, maar sê ook dat dit ‘n vreugde was om op te ruim. Om mense weer trots te maak op hul dorp.

Groot dele van Vredefort is nou skoon en is ‘n beroep op die gemeenskap gedoen – kom ons hou Vredefort skoon. “Kom ons sit weer die glimlag terug in ons dorp,” sê ds. Johan.

Groot dele van Vredefort is vandag skoongemaak met die gemeenskapsinisiatief.

Hierdie was nie die laaste skoonmaak nie. Hierdie was net die begin.

Hulle wil meer gereeld vullis optel. Die dorp se parkie laat herleef.

“Dit is mos lekker om in ‘n skoon dorp te bly en dit sal so lekker wees as mense raaksien hoe skoon die dorp nou is,” sê ds. Johan.

Na vandag se skoonmaak is saamgekuier en was daar selfs pryse vir die meeste sakke vol vullis.

Dankie vir almal wat opgedaag het. Almal wat gehelp het.

Dalk is hierdie ook ‘n aanmoediging vir ander gemeenskappe om dieselfde te doen.

Paul Joubert, jeugleier van die Dinamika gemeente, saam met ds. Johan Lötter, leraar van Vredefort se NG gemeente.

 

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button