NewsNews

Die eerste tenks is hier

Dankie vir elkeen wat hierdie inisiatief ondersteun het.

Die eerste van die 42 watertenks wat geborg is vir instansies en die gemeenskap van Parys om verligting te bring vir die dorp se waternood, het gearriveer!

Die JoJo watertenks is moontlik gemaak danksy ‘n ongelooflike inisiatief van sakelui in die gemeenskap. Naas die instansies wat deur die gemeenskap genomineer is vir die watertenks, sal daar ook 8 watertenks op strategiese punte in die dorp geplaas word vir inwoners wie se krane droog is.

Die inisiatief is begin deur Pula Build it en Repmetco wat ‘n verskil wou maak aan die waternood wat gereeld in die dorp ervaar word. Aanvanklik was die plan om een watertenk vir ‘n verdienstelike organisasie in Parys te skenk, en een vir Tumahole. Maar die reaksie op die inisiatief was so oorweldigend dat twee tenks toe 42 geword het, en steeds dra mense by tot die projek ná ‘n berig wat Donderdag 14 Julie in die Gazette geplaas is. Skenkings wat nou ontvang word, help weer met drukpompe en die installasie van die watertenks.

JoJo se hoofkantoor het self ook hul ondersteuning vir die projek gegee en is 6 van die 42 watertenks deur JoJo geskenk.

Daar is reeds ‘n lys van instansies wat sal baat by die projek saamgestel. Van die instansies wat deur die gemeenskap genomineer was sluit in VVA, die DBV, Parys-hospitaal, Epilepsie SA, die Vredefort Hartshuis, Schonkenville Luncheon Club, Alpha Christian Day Care, Eden Day Care Centre, Serendipity, Amot, die Tumahole kliniek, Villa Riviera, Overcomers, Eendjies Dagsorg in Schonkenville, die Rotary-klub rondawels en die Lehlohonolo Day Care Centre in Tumahole. Daar sal nou met dié instansies geskakel word om die finale reëlings te tref. l

Die gemeenskap van Parys se insette word gevra om te laat weet waar die agt watertenks wat vir die gemeenskap in Parys beskikbaar gestel word, geplaas moet word.
* Die punte moet sentraal wees in die onderskeie woonbuurte – Saligna, Oudewerfpark, die gedeelte by die Rooidam en in die middedorp self.
* Die punte moet so geleë wees dat die watertenks veilig sal wees en volgehou kan word.
* Die ideaal is dus adresse waar daar boorgate is of plekke waar maklik toegang tot water is, want die tenks sal vol gehou moet word.
* Hierdie inisiatief is om die gemeenskap van Parys te help, en nou het ons Parys se inwoners se insette baie nodig. WhatsApp jou voorstel vir die sentrale punte waar water is om die tenks vol te hou na Parys Gazette by 060 690 7591.

Die eerste van die 42 watertenks wat vir instansies en die gemeenskap van Parys geborg is, het reeds in Parys gearriveer.

Hierdie watertenk-inisiatief is ook net die begin vir ‘n gemeenskap wat weet hoe om saam te werk in nood.
Repmetco en Pula Build it het reeds planne in plek om ook te help met die herstel van sekere strate in die dorp wat dringende herstel nodig het.
As jy jou hulp wil aanbied of wil bydra, maak kontak met hierdie ondernemings via e-pos by janlubbe@repmetco.co.za of by harryvds@mweb.co.za

Related Articles

Back to top button