NewsNews

Beurtkrag kniehalter staptog na Kaapstad

Ná drie dae se stap onderweg van Edenvale na Kaapstd, moes Nuno Morais halt roep. Beurtkrag wat landwyd deur Eskom toegepas word, het die uitdagings met selfoonkommunikasie en bystandbatterye wat nie gelaai kan word nie, eenvoudig net té groot gemaak om die staptog te kan voltooi waarmee Nuno mense wou bewus maak van die trauma …

Ná drie dae se stap onderweg van Edenvale na Kaapstd, moes Nuno Morais halt roep. Beurtkrag wat landwyd deur Eskom toegepas word, het die uitdagings met selfoonkommunikasie en bystandbatterye wat nie gelaai kan word nie, eenvoudig net té groot gemaak om die staptog te kan voltooi waarmee Nuno mense wou bewus maak van die trauma en lewensverlies weens plaasaanvalle, moord en geweld teen vroue en kinders.
Nuno het in 2020 van Johannesburg na Kaapstad gehardloop vir ‘n soortgelyke bewusmakingsveldtog vir die organisasie, Our Voice.
Sedert dié inisiatief in 2020 was daar reeds duisende nuwe sake van moord in die land aangemeld. Vergelyk jy die syfers van die eerste kwartaal vanjaar met ooreenstemmende syfers verlede jaar, is dit ‘n 20% styging, sê Nuno.
En dit is waarom hy op Sondag 10 Julie sy tekkies aangetrek het om die 1 380km te voet van Edenvale in Johannesburg na Kaapstad te stap, want sê hy, “mense moet weet wat in ons land aangaan. Ek het twee pragtige dogters. Dit is nie reg dat kinders moet grootword in omstandighede waar hulle heeltyd oor hul skouer moet kyk nie.”
Op sy eie met net die hulp van ‘n vriend Dean Faivelowitz wat hom met ‘n bystandvoertuig vergesel, het hy van dorp tot dorp gestap
Dinsdagmiddag 12 Julie het hy in Parys gearriveer en net na 09:00 Woensdag 13 Julie, was Nuno en Dean weer oppad van Parys na Vredefort, en dan Kroonstad vir die volgende skof op hul roete. Maar met die gesukkel met selfoonseine en Dean wat weens werksverpligtinge moes terugdraai, het hulle onderweg na Bloemfontein, Donderdag besluit om eers die staptog halt te roep.
Maar wanneer die situasie met beurtkrag verbeter, wil hulle die staptog voortsit, want hierdie is ‘n reis wat Nuno aanpak omdat hy self ‘n verskil wil maak.
Hy wil hê mense moet weet van die realiteit waarmee Suid-Afrikaners elke dag leef, en dat moord, plaasaanvalle en geslagsgebaseerde geweld, mense se geliefdes van hul wegneem. Dat die Suid-Afrikaanse regstelsel slagoffers van misdaad dikwels faal.
Sy staptog is vanjaar ondersteun deur Our Voices 2.0, Stop Farm Murders en Move One Million asook Monteauga Steel.

Related Articles

Back to top button