News

Van 2 na 42: Sakelui vat hande om dorp se waternood te verlig

Ons opregte dank aan elke borg wat hul harte oopgemaak het vir die nood van Parys en bygedra het tot die watertenk-inisiatief. Sien ook die advertensie in vandag se Gazette met die name van borge wat die inisiatief moontlik gemaak het. 

 

Terwyl die dorp sedert 1 Julie onder ‘n kragkrisis en ernstige waternood gebuk gaan, het sakelui in die gemeenskap, maar ook van buite die dorp, met ‘n ongelooflike inisiatief begin om nie net watertenks te skenk aan instansies wat ‘n diens aan ander lewer nie, maar ook om water aan die gemeenskap te help voorsien.
Nie minder nie as 42 JoJo watertenks kon reeds teen Maandag met dié inisiatief gekoop word, waarvan agt uitgehou sal word om op strategiese punte in die dorp te plaas.

Die ongelooflike gemeenskapsinisiatief het begin met Pula Build it en Repmetco wat ‘n verskil wou maak aan die waternood wat veral instansies wat hulp verleen tans in die gemeenskap ervaar. Een watertenk sou vir Parys, en een vir Tumahole geskenk word. Die gemeenskap is gevra om instansies te nomineer.

Die reaksie was oorweldigend. Sakelui het onmiddellik aangebied om by te dra en mense wat deur die twee ondernemings genader is, het ook hulp aangebied. Die getal watertenks om te kan voorsien in die nood het net bly groei.
Nie net is die 42 watertenks geskenk nie, maar daar is selfs bydraes gegee vir drukpompe, of aangebied om te help met die installasie van die watertenks. JoJo se hoofkantoor het ook hul steun vir die inisiatief gegee met ses watertenks wat geskenk is.
Hoewel daar watertenks vir die gemeenskap in Tumahole en Schonkenville beskikbaar is, is daar tans geen watertenks in die dorp self vir die gemeenskap beskikbaar nie.

‘n Lys van instansies wat gehelp kan word is reeds saamgestel, hoewel dit nog nie met Gazette se druktyd gefinaliseer was nie.
Instansies wat deur die publiek voorgestel is, sluit in VVA, die DBV, Parys-hospitaal, Epilepsie SA, die Vredefort Hartshuis, Schonkenville Luncheon sentrum, Alpha Christian Day Care, Eden Day Care Centre, Serendipity, Amot, die Tumahole kliniek, Villa Riviera, Overcomers, Eendjies Dagsorg in Schonkenville, die Rotary-klub rondawels en die Lehlohonolo Day Care Centre in Tumahole. Daar sal nou met die instansies geskakel word om die finale reëlings te tref. Die tenks sal na verwagting vandeesweek nog afgelewer word, waarna met die groot werk begin sal word om die tenks by die onderskeie instansies en in die dorp te plaas.

Die gemeenskap van Parys se insette word gevra om te laat weet waar die agt watertenks wat vir die gemeenskap in Parys beskikbaar gestel word, geplaas moet word.
* Die punte moet sentraal wees in die onderskeie woonbuurte – Saligna, Oudewerfpark, die gedeelte by die Rooidam en in die middedorp self.
* Die punte moet so geleë wees dat die watertenks veilig sal wees en volgehou kan word.
* Die ideaal is dus adresse waar daar boorgate is of plekke waar maklik toegang tot water is, want die tenks sal vol gehou moet word.
* Hierdie inisiatief is om die gemeenskap van Parys te help, en nou het ons Parys se inwoners se insette baie nodig. WhatsApp jou voorstel vir die sentrale punte waar water is om die tenks vol te hou na Parys Gazette by 060 690 7591.

Hierdie watertenk-inisiatief is ook net die begin vir ‘n gemeenskap wat weet hoe om saam te werk in nood.
Repmetco en Pula Build it het reeds planne in plek om ook te help met die herstel van sekere strate in die dorp wat dringende herstel nodig het.
As jy jou hulp wil aanbied of wil bydra, maak kontak met hierdie ondernemings via e-pos by janlubbe@repmetco.co.za of by harryvds@mweb.co.za

Related Articles

Back to top button