NewsNews

Selfs die fynste detail ontgaan haar oog nie op die 7de Laan-stel

Carla is een van die kostuum assistente vir die TV-sepie 7de Laan, en die nagaan van kostuums en bykomstighede volgens die beplanning vir elke toneel wat verfilm word, is deel van haar daaglikse verantwoordelikhede.

 

Waar die kameras rol in die 7de Laan sepie filmateljee, mis die oë van oud-Parysenaar Carla Pretorius nie eens die kleinste detail van die akteurs se kostuums of bykomstighede nie. Of dit nou ‘n trouring is wat gedra word, ‘n horlosie, of ‘n paar skoene. Daar word na alles gekyk.
Carla is een van die kostuum assistente vir die TV-sepie 7de Laan, en die nagaan van kostuums en bykomstighede volgens die beplanning vir elke toneel wat verfilm word, is deel van haar daaglikse verantwoordelikhede.

En as jy jou dalk sou verbeel dat jy haar al iewers in ‘n 7de Laan toneel in die agtergrond gesien het, is jy nie verkeerd nie, want dié oudleerder van Parys is ook al by geleentheid as een van die ‘ekstra’ akteurs vir tonele gebruik.

Carla het in 2017 aan die Hoërskool Parys gematrikuleer en toe ‘n drie jaar kursus in mode-ontwerp aan die Vega Design School in Randburg gedoen wat sy in 2020 voltooi het.

Van Carla se werk wat sy gedoen het tydens haar studie. Foto: Verskaf

In 2021 het sy haar gradeplegtigheid gehad en toe begin die soektog na werk.

Carla met haar gradeplegtigheid.

In Januarie trek sy Johannesburg toe en het kontak gemaak met een van haar dosente vir voorstelle waar sy kon aansoek doen vir ‘n pos.
Só het sy die geleentheid gekry vir ‘n internskap as kostuum assistent by 7de Laan.
As student het Carla se kursusgroep die 7de Laan filmateljee besoek toe kostuumontwerp behandel is.
Sy vertel dat sy toe al beïndruk was met hoe dinge gedoen word by die 7de Laan-ateljee.
Na ongeveer ‘n maand as intern by die 7de Laan kostuum departement, is Carla voltyds aangestel.
Haar werk vereis noukeurigheid en baie aandag aan detail.
So is daar handsakke vir elke karakter, vertel Carla. Wanneer die karakter tydens die verfilming van ‘n toneel ‘n vertrek verlaat en na buite beweeg, moet die regte handsak byderhand wees, en weggeneem word nadat die toneel verfilm is.
Daar is notas vir elke kostuum soos deur die tonele gewerk word, sodat die kostuum assistent presies weet wat elke karakter op stel moet dra. Dan word detail bygesit soos ‘n hemp wat ingesteek is met twee knope oop, of spesifieke skoene wat saam met die uitrusting gedra word. Die akteurs het verskillende skoene wat hulle kies vir hul uitrustings, gesels Carla.
Die kostuum assistente neem ook foto’s van die akteurs se uitrustings sodat die kostuum departement presies weet hoe dit gestileer is. Dit verseker dat die uitrusting presies dieselfde sal lyk regdeur die hele episode.
Die tonele in ‘n episode word nie noodwendig in volgorde verfilm nie, verduidelik Carla, en daarom is dit belangrik om seker te maak dat elke stukkie detail dieselfde sal lyk wanneer die uitrusting weer gedra word.
Carla vertel dat die grootste uitdaging in haar werk is om heeltyd gefokus te bly en vinnig ‘n probleem te kan identifiseer. Belangriker nog is om die probleem vinnig op te los sodat daar nie agter geraak word op die dag se skedule nie.
Om die karakters te leer ken en die besondere band te ervaar wat daar is tussen die hele produksiespan se lede, was vir haar ‘n belewenis, sê Carla. “Almal werk saam en help waar hulle kan.”

Carla op die 7deLaan-stel, waar sy tussendeur die verfilming seker maak die akteurs se kostuums en bykomstighede is reg. Foto: Verskaf

Onder ‘n paar van die akteurs het sy al die bynaam “Parys” gekry.
Haar toekomsdroom is om vir nog ‘n paar jaar deel van die 7de Laan-produksiespan te kan wees. “Ek geniet my werk en probeer soveel moontlik leer en groei,” sê sy.
“Dis moeilik om goeie werk te kry, ek dink dit is nodig om elke geleentheid aan te pak en ‘side hustles’ is partykeer ook die antwoord,” is haar raad aan studente wat ‘n loopbaan moet begin.
Op ‘n vraag waar haar passie vir die modebedryf vandaan kom, sê Carla dat sy van kleins af rokkies gemaak het en “ander wou mooimaak.”
Sy is die vierde generasie in haar familie wat naaldwerk doen en klere maak, en was haar ouma se borduurpatrone veral handig toe sy nog besig was met haar studie. Wanneer sy nie naweke werk nie, skilder of skryf Carla, of hou haar besig met Resin Art.

Related Articles

Back to top button