News

Meer as R66 miljoen nodig om verligting te bring vir dorp se kragkrisis

Die Ngwathe munisipaliteit gaan nou by die Vrystaatse Provinsiale Tesourie en die Vrystaatse Departement van Samewerkende Regering & Tradisionele Sake, aanklop vir hulp vir die meer as R66 miljoen wat Eskom van Ngwathe vra om die kragvoorsieningsnetwerk  vir die vyf Ngwathe dorpe op te gradeer om verligting te bring vir die geweldige kragnood wat veral …

Die Ngwathe munisipaliteit gaan nou by die Vrystaatse Provinsiale Tesourie en die Vrystaatse Departement van Samewerkende Regering & Tradisionele Sake, aanklop vir hulp vir die meer as R66 miljoen wat Eskom van Ngwathe vra om die kragvoorsieningsnetwerk  vir die vyf Ngwathe dorpe op te gradeer om verligting te bring vir die geweldige kragnood wat veral Parys die afgelope weke ervaar.

In ‘n verklaring wat vandag, Donderdag 14 Julie, deur die kantoor van Ngwathe se uitvoerende burgemeester, rdl. Victoria de Beer uitgereik is, word bevestig dat Ngwathe sedert 2018 met Eskom onderhandel in ‘n poging om sy jarelange verouderde Aangemelde Maksimum Aanvraag (NMD) te verhoog. Eskom se kwotasie om die NMD vir die 5 Ngwathe dorpe te verhoog beloop  R66,737,000,00 miljoen wat as deposito of bankgewaarborgde tjek aan die kragreus betaal moet word voordat met opgradering van die netwerk begin sal word.

Die Eskom-kwotasie is tydens vandeesweek se raadsvergadering bespreek, waar die mandaat gegee is om in terme van wetgewing wat handel oor interregeringsverhoudings, by die provinsie hulp te soek.

In vandag se verklaring word die gevaar vir die oorlading van die Eskom transformator wat net ‘n 20mVA kapasiteit het, baie duidelik uitgespel, met  die huidige verbruik wat reeds 21mVA oorskry. Die gevolg is die geforseerde munisipale rotasie beurtkrag wat Parysenaars nou daagliks vir ure sonder krag laat tussendeur Eskom nasionale beurtkrag.

Omdat die las op die netwerk nie voorspel kan word nie, maak dit die bestuur van rotasie beurtkrag uiters moeilik en ‘n skedule baie onbetroubaar.

Eskom het die naweek in ‘n verklaring gesê dat hy sy tweede transformator Sondag uit die Eskom-substasie in Parys skuif  vir herstelwerk. Hoewel ‘n tweede transformator vandag, Donderdag 14 Julie na die substasie gebring sou word, het Eskom  ook weer by navraag van Gazette bevestig dat die tweede transformator nie gekoppel sal word voordat Ngwathe nie die gekwoteerde bedrag vir opgradering van sy kragvoorsieningsnetwerk betaal nie.

Die transformator sou wel nou  na Parys geskuif word sodat wanneer die betaling ontvang word, daar nie vertraging sal wees met die opgradering nie, het Eskom gesê.

Oorlading van die enkele gekoppelde Eskom transformator was inderdaad dan ook die rede waarom kragtoevoer na Parys op Vrydag 1 Julie onderbreek is, en die dorp uiteindelik vir vier dae sonder krag was.

Ngwathe stel dit in sy verklaring dat die oorlading die direkte gevolg was van Eskom se vermindering van kragvoorsiening aan die munisipaliteit, sonder vooraf kennisgewing, van 1 200 Ampere na 1 030 Ampere wat selfs minder is as die ooreengekome  kontraktuele kragvoorsiening van 21 mVA wat deur Eskom aan Ngwathe voorsien moet word volgens die bestaande Aangemelde Maksimum Aanvraag ooreenkoms.

Die munisipaliteit sê  dat Eskom hom  in kennis gestel het dat die kragreus nie die fondse het om te betaal vir die skade wat veroorsaak is weens die oorlading van die netwerk nie, en daarom R1,086,006, 00 sou moes bydrae vir die herstel van die skade. Ook dat dié formele kwotasie eers na 16:00 Vrydagmiddag 1 Julie ontvang is wat té laat was vir die munisipaliteit se betaalstelsel om  te kon verwerk. Die bedrag is net na 06:00 Maandagoggend 4 Julie aan Eskom oorbetaal.

In die munisipaliteit se verklaring word  ‘n beroep op die gemeenskap gedoen om krag spaarsamig te gebruik veral gedurende wintermaande wanneer verbruik hoër is.

Die Raad het tydens vandeesweek se vergadering besluit om ‘n taakspan spesifiek vir die Eskom-kwessie saam te stel bestaande uit lede van die Raad se Finanskomitee, die uitvoerende komitee vir infrastuktuur en lede van die gemeenskap op uitnodiging. Die komitee sal deur die burgemeester self gelei word.

 

 

 

 

 

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button