News

NWU student oorleef gru-motorongeluk

Kaylee het na die ongeluk ‘n operasie in die Netcare Ferncrest-hospitaal ondergaan om haar gebreekte linkerfemur te herstel.

‘n Tweedejaar onderwysstudent aan die NWU, Kaylee Barrett (20) is een van die oorlewendes van ‘n tragiese motorongeluk op die N4 naby Rustenburg wat Saterdag, 9 Julie die lewe van vier mense geëis het.

Kaylee was saam met haar vriend Bernard Meyer (21), sy ouers en sy broer op pad huis toe na ‘n vakansie in die Kaap, toe die ongeluk naby die Waterfall-winkelsentrum in Rustenburg gebeur het.
Die gesin het vanaf die Kaap tot by die Lanseria lughawe gevlieg en was met hul motor op pad na hul huis in Rustenburg toe die ongeluk omstreeks 21:00 gebeur het.

Drie lede van die Meyer-gesin is in die ongeluk dood, terwyl ‘n ander passasier ook aan sy beserings beswyk het. Volgens ER24 woordvoerder, Russel Meiring is daar ook agt ander mense beseer toe drie ligte motorvoertuie en ‘n bakkie teen mekaar gebots het.

“ER24 en ander dienste het omstreeks 21:15 op die toneel aangekom en drie voertuie in die middel van die pad gevind, terwyl ‘n ligte motorvoertuig aan die kant van die pad gebrand het. Verskeie pasiënte het buite die motors gelê,” het hy gesê.

Provinsiale brandweerdienste was op die toneel om die brandende voertuig te blus. Paramedici het drie pasiënte gevind wat in die smeulende motor gelê het. Nog ‘n man is ook in ‘n ander ligte motorvoertuig gevind.

“Niks kon vir hulle gedoen word nie en hulle is op die toneel dood verklaar,” noem Meiring.

Kaylee Barrett, ‘n tweedejaar onderwysstudent aan die NWU, is Saterdag, 9 Julie in ‘n motorongeluk op die N4 naby Rustenburg beseer. Foto: Verskaf

Kaylee het na die ongeluk ‘n operasie in die Netcare Ferncrest-hospitaal ondergaan om haar gebreekte linkerfemur te herstel. ‘n Plaat is in haar bobeen geplaas om die femur te herstel. Volgens haar ma, Alta Louw, is daar verbetering in Kaylee se toestand en is sy op die herstelpad.

“Ons hoop sy word gou ontslaan,” het sy genoem.
Volgens Netwerk 24 sterk Bernard ook tans in die Life-Peglarae-hospitaal in Rustenburg aan. Sy familie het genoem dat hulle verkies om nie inligting oor hom te deel nie.

Related Articles

Back to top button