NewsNews

AfriForum Vrydag weer in die hof oor dorp se krag en water

Publiek se verklaring gevra oor krag en water by huishoudings

Die burgerregte organisasie AfriForum, en Ngwathe se regsspanne sal Vrydag weer in die Vrystaatse Hooggeregshof in Bloemfontein wees oor Parys se voortslepende water- en kragprobleme. Dit nadat die saak vandag uitgestel moes word omdat die Ngwathe munisipaliteit se opponerende hofstukke nie volledig was nie, sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

Die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit en Eskom is albei gevoeg in die dringende aansoek waar AfriForum  verligting vra om die situasie in die dorp weer te normaliseer.

Inwoners sit tans vir tot 11 ure en langer sonder krag weens beide Eskom en munisipale rotasie beurtkrag. Inwoners se grootste frustrasie is kragonderbrekings wat nie altyd volgens skedule is nie, en sê besighede dat dit onmoontlik word om hul deure te kan oophou weens die geweldige koste aan brandstof om kragopwekkers vir ure aaneen aan die loop te hou.

AfriForum sê die probleme wat nou gesien word  is ’n uitvloeisel van jare se wanbestuur, verwaarlosing van infrastruktuu, r en wanbetaling van die munisipaliteit se kant af.

“Die munisipaliteit het totaal en al in sy taak gefaal om selfs basiese dienste in die dorp te lewer en hoewel die gemeenskap aan hul eie genade oorgelaat is moet hulle steeds belasting betaal.”

Jaco Grobbelaar, AfriForum se streekhoof vir die sentraalstreek sê AfriForum het al in menige vergaderings met die munisipaliteit gesit waar aangebied is om die munisipaliteit by te staan met kundige hulp en advies maar is dit van die hand gewys. “Dit los ons met geen ander uitweg as om ’n hofbevel te kry om die munisipaliteit te verplig om dienste te lewer soos wetgewing van hulle vereis nie,”” sê hy.

AfriForum het inwoners van Parys gevra vir verklarings oor hul water en kragsituasie in huishoudings, en kan beëdigde verklarings van inwoners nog tot Donderdag 14 Julie om 13:00 ingedien word.

Verklaring kan handgeskrewe of getik wees en moet mense se volle naam, volle adres, ID  nommer en selfoonnommer daarop hê.

Du Toit & Drotsky Prokureurs in Kerkstraat, en Gerda Small Prokureurs in Waterstraat sal help met die beëdiging van verklarings tussen 09:00 en 12:00  Donderdagoggend 14 Julie, en kan mense die verklarings ook by dié prokureurs laat waar dit dan opgetel sal word deur AfriForum. Beëdigde verklarings kan ook by Security Master in Breëstraat ingehandig word tot en met die sperdatum.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button