NewsNews

Dankgebede vir soveel genade ná brand by kerk

Gemeente sê dankie vir elkeen wat gehelp het om die brand te blus.

Net meer as ‘n uur voordat die Baptiste gemeente in Parys sy aanddiens vanaand, Sondag 10 Julie sou hou, het vrywilligers uit dié gemeenskap en die Ngwathe Brandweer nog  hier by die kerkterrein gehelp om ‘n brand in die kerk se kombuis te blus. Danksy die vinnige optrede van hierdie hande wat altyd reg staan om te help, is gekeer dat die brand  nie na die res van die kerkgebou versprei het nie.

Die leraar van die gemeente, Jannie Vosloo, vertel dat hy in Pretoria was toe die noodoproepe gelyktydig begin deurkom het op sy selfoon en hy dadelik besef het dat daar fout is.

Foto’s: Verskaf

Lede van We Care, Security Master, die Ngwathe Brandweer- en Nooddiens, Parys Sekuriteit, Prinsloo Recovery, Parys Medix, CSS en Tinus van Mast Towing met ‘n private brandweervoertuig, was onmiddellik op die toneel, en is die brand baie gou onder beheer gebring.

“Ons is ongelooflik dankbaar vir die vinnige reaksie en almal se hulp,” het Vosloo namens die gemeente gesê. Hy sê dit is nie op hierdie stadium seker wat die brand veroorsaak het nie, maar wat wel seker is, is dat Parys ‘n ongelooflike gemeenskap is wat weet hoe om saam te werk in ‘n krisis.

“Ons is so dankbaar teenoor Parys se mense en vir soveel genade”,  en dit is ook vanaand gehoor in die dankgebede van die gemeente.

Die kerkgebou is ‘n nasionale gedenkwaardigheid en is in 1908 gebou. Dit is die afgelope sowat 60 jaar in die Baptiste-gemeente van Parys se besit, het Vosloo vertel.

Die gebou het voorheen aan die Heilsleër behoort.

Related Articles

Back to top button