News

Transformator-skuif: ‘n Resep vir ‘n kragfiasko?

Forum gee kennis van dispuut oor transformator

Naas die beplande herstelwerk wat Eskom Sondag 10 Julie in sy substasie in Parys sal doen, gaan die kragreus  môre boonop die tweede transformator wat in sy substasie in Parys “gestoor” word,  skuif om herstelwerk te laat doen, is gesê.

In ‘n amptelike verklaring wat vanoggend, Saterdag 9 Julie, deur Eskom uitgereik is, sê Eskom hy wag nog vir Ngwathe om sy kwotasie te aanvaar vir opgraderings aan die munispaliteit se kragvoorsieningsnetwerk waarvoor lankal gevra word. Hy sê ook hy sal ‘n ander transformator na die substasie bring op Donderdag 14 Julie.

Wat nie in die skrywe gesê word nie, maar telefonies na wat verneem is gekommunikeer is, is dat die transformator wat gebring word, oënskynlik ‘n 10mVA kapasiteit het.

Beide transformators wat tans in die Eskom-substasie in Parys is, is 20mVA. Sou daar dus na die skuif fout gaan met die oorblywende 20mVA transformator, is daar nie ‘n manier dat ‘n kleiner transformator die dorp se ligte kan aanhou nie. Toe beide 20mVA transformators gekoppel was soos in 2021, kon noodskakeling  gedoen word om krag te voorsien aan die dorp selfs wanneer daar probleme met een van die transformators was.

Die Parys Ontwikkelingsforum by monde van sy prokureur, mnr. Lou van Wyk, het na Eskom se aankondiging van die transformator-skuif, aan Eskom se prokureurs ‘n skrywe gerig waarin weer verwys word na die oorspronklike Hoë Hof bevel  in 2020 wat bepaal het dat Eskom beide sy transformators in die Eskom-substasie in Parys in werkende orde moet hê om die dorp van krag te kan voorsien.

Die tweede transformator is inderdaad in Februarie 2021 deur Eskom herstel en in werking gestel. Maar in Oktober 2021 is dit weens onbekende redes gediskonnekteer hoewel steeds gekoppel aan die Eskom-toevoer. Toe tydelike herstelwerk op Maandag 4 Julie gedoen is deur Eskom, nadat  Parys op 1 Julie skielik in die donker gelaat is toe Ngwathe die kragvoorsieningsnetwerk oorlaai het, is die tweede transformator ook ontkoppel van die Eskom-toevoer.

Met net 1 tranformator  is die risiko vir oorlading van die netwerk baie groot, soos inderdaad die geval was op 1 Julie, veral met die dorp se kragverbruik wat baie hoër is as die huidige aangemelde maksimum aanvraag (NMD).

Gedurende die wintermaande van 2021 het Parys alreeds 29mVA gebruik. Intussen word daar nog uitbreidings in die dorp gedoen,  en gebou aan ‘n nuwe winkelkompleks wat na verwagting in 2023 sal open.

Soos die situasie tans is kry die munisipaliteit met moeite selfs met rotasie beurtkrag tydens wintermaande, die kragverbruik binne sy toegelate perk, en was dit die afgelope week al nodig om meer as een gedeelte met rotasie beurtkrag af te skakel, tussendeur nasionale Eskom beurtkrag.

Eskom sê hy waarsku al sedert 2018 die munisipaiteit om sy kragvoorsieningsnetwerk op te gradeer en dat wanneer daar oorlading is, hy die munisipaliteit aanspreeklik sal hou vir die skade. Dit het Ngwathe  reeds op 4 Julie net oor ‘n miljoen gekos. Eskom sê hy is verplig om sy toerusting te beskerm om veilige en stabiele elektrisiteit te lewer en dat die NMD vir Ngwathe nie beperk word as kredietbestuursmaatreël nie.

Tog wil dit lyk asof hierdie skuif  met die ruil van transformators, ‘n skaakmat skuif vir Ngwathe is. Ngwathe sal sy kragvoorsieningsnetwerk moet opgradeer wat Eskom vereis. Dit terwyl die munisipaliteit nie eens sy volle lopende rekening in wintermaande kan betaal nie, en die munispialiteit Eskom al ‘n astronomiese R1,54 miljard skuld.

Dispuut oor transformator:

Die Forum se prokureur, mnr. Lou van Wyk, het vanoggend ‘n kennisgewing deur die plaaslike balju op Eskom bedien, en ook per e-pos gestuur aan Eskom se prokureurs en bestuur, waarin Eskom in kennis gestel is dat die tweede transformator nie verwyder kan word terwyl daar dispuut oor  eienaarskap van die  transformator is nie.

Luidens die prokureurskrywe het die munisipaliteit vir die tweede transformator betaal en die installasie daarvan op sy versoek laat doen  gedurende die sewentigerjare met fondse wat  deur National Bolts (voorheen Basa) en die Arwa fabrieke  voorsien is met die oog op uitbreiding van beide fabrieke, en sal die Forum geen ander alternatief hê as om  ‘n dringende aansoek tot die Hoë Hof te rig as die tweede transformator nie onmmidellik deur Eskom gekoppel word nie.

 

The copyright to this information resides with The Parys Gazette and may be shared as a link to the original or refence to the author but may not be copied without the explicit permission of the author.

 

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button