News

Samesprekings weer vandag gehou oor Ngwathe-kragkrisis

Eskom moet sy toerusting beskerm om sodoende veilige en stabiele elektrisiteit te kan lewer

In antwoord op die bittere woede van inwoners van Parys oor waarom verbruikers gestraf word vir Eskom en die Ngwathe munisipaliteit se geldgeskil, het die kragreus vanoggend in ‘n skrywe gesê dat hy simpatiek is teenoor die gemeenskap se pleidooie dat ‘n oplossing spoedig gekry moet word, maar dat dit Eskom se mandaat is om te verseker dat krag veilig voorsien word soos wetlik vereis.

Op vrae van ‘n inwoner, mnr. Gavin Aboud, aan senior Eskom-bestuur, het me. Fatima Bibi Bedir, Eskom se Senior bestuurder klantediens in die Vrystaat, gesê dat Eskom se elektrisiteitsvoorsieningsooreenkoms met die munisipaliteit is, en dat Eskom daarom nie sekere tegniese en finansiële inligting met derde partye kan deel sonder die goedkeuring van die munisipalieit nie.

Bedir sê dat skuld van munisipaliteite regoor die land hanteer word op plaaslike, provinsiale en nasionale inter-regeringsvlakke, en dat dit geen geheim is dat die wanbetaling deur munisipaliteite ‘n groot finansiële las op Eskom plaas wat dit moeilik maak om ‘n diens aan nie-betalende kliënte te kan  lewer.

In antwoord op aantygings oor waarom Eskom nie vroeër al opgetree het teenoor Ngwathe nie, het Bedir gesê dat die krisis wat op 1 Julie ontstaan het wat die dorp vir 4 dae sonder krag gelos het, te wyte was aan oorlading van die Eskom-transformator wat krag voorsien aan Ngwathe. Daarteen word al sedert 2018 gewaarsku. Sy het benadruk dat Eskom al by herhaling gewaarsku het dat die risiko van skade aan die Eskom-transformator daar is solank as daar nie opgradering van Ngwathe se kant gedoen word om oorlading van die netwerk te voorkom nie.

Bedir sê die munisipaliteit bly aanspreeklik daarvoor om sy  kragvoorsiening infrastruktuur te onderhou en op te gradeer soos wat vereis word.

Sy sê daar word voortgegaan met samesprekings op inter-regeringsvlak oor die Ngwathe kragkrisis en is daar weer vandag, Woensdag 6 Julie, samesprekings oor die aangeleentheid.

Bedir sê voorts in antwoord op mnr. Aboud se skrywe wat ook aan Gazette beskikbaar gestel is, dat Eskom hoop dat die munisipaliteit dringend sal betaal vir die opgraderingskostes aan sy netwerk om die veiligheid van kragvoorsiening aan die gemeenskap te verseker.

Oor die kwessie oor die Aangemelde Maksimum Aanvraag (NMD) aan Ngwathe wat nie verhoog word nie, en waaroor WhatsApp-boodskappe vanoggend versprei is, het Eskom bevestig dat die NMD beperk word om die netwerk te beskerm, en dat dit nie ‘n kredietbestuursmaatreël is nie. Regulasies dwing ‘n elektrisiteitsverspreider om infrastruktuur te onderhou om stabiele en veilige elektrisiteitsvoorsiening te verseker.

Eskom moet sy toerusting beskerm om sodoende veilige en stabiele elektrisiteit te kan lewer, is gesê.

The copyright to this information resides with The Parys Gazette and may be shared as a link to the original or refence to the author but may not be copied without the explicit permission of the author.

You can read the full story on our App. Download it here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button