NewsNews

Prospektering naby Gerhard Minnebron gaan ‘nie-indringend’ geskied

Volgens die direkteur van Sunshine Mineral Reserves, Charlie Watts, is die maatskappy op eksplorasie gefokus en het aansoek gedoen vir ‘n nie-indringende prospekteerreg naby Potchefstroom.

‘n Goedgekeurde aansoek vir prospekteerreg in die area rondom die Gerhard Minnebron natuurlike oog sal op ‘n nie-indringende wyse geskied.

Daar is die afgelope maand kennisgewings oor Sunshine Mineral Reserves se goedgekeurde aansoek uitgereik om die gebied buite Potchefstroom (wat gedeeltes van Gerhard Minnebron, Vyfhoek en Rietfontein) insluit, te prospekteer as deel van die NW Goldfields projek.

Die publiek het tot 30 Junie (vandag) die geleentheid om as belangstellende partye te registreer. Die aansoek vir hierdie projek is reeds op 12 April vanjaar deur die Departement van Minerale Hulpbronne en Energie aanvaar, maar nog nie goedgekeur nie.
Volgens die direkteur van Sunshine Mineral Reserves, Charlie Watts, is die maatskappy op eksplorasie gefokus en het aansoek gedoen vir ‘n nie-indringende prospekteerreg naby Potchefstroom.

Dit beteken dat daar met die prospektering net na historiese data gekyk sal word.
“Sunshine Mineral Reserves (Sunshine), wat ‘n eksplorasie-gefokusde maatskappy is, het aansoek gedoen vir ‘n nie-indringende prospekteerreg naby Potchefstroom. Die area waarvoor Sunshine aansoek gedoen het, is in die verlede deur verskeie maatskappye geprospekteer en Sunshine sal die historiese data vir studiedoeleindes gebruik,” noem hy.

“In die Prospekteerwerkprogram (PWP) wat deur Sunshine by die Departement van Minerale Hulpbronne en Energie ingedien is, word daar duidelik uiteengesit dat Sunshine nie enige indringende prospektering/mynbou of die gebruik van water vanaf Gerhard Minnebron sal doen nie. In die PWP het ons bepaal dat ons aktiwiteite uit lessenaarstudies sal bestaan en dus nie die area sal versteur nie,” voer hy verder aan.

Sunshine se doelwit is om die historiese data na te gaan en te bestudeer en indien ‘n gebied verdere studie regverdig, sal daar dienooreenkomstig by die Departement van Minerale Hulpbronne en Energie aansoek gedoen word.

“Gerhard Minnebron is ‘n uiters sensitiewe area en dit is juis die rede waarom Sunshine aansoek gedoen het vir nie-indringende prospekteerreg. Nie net om areas van belang te identifiseer nie, maar ook om gebiede te identifiseer wat sensitief is en hierdie gebiede as verbode gebiede te kategoriseer,” het Watts verduidelik.

Daar is steeds kommer in die gemeenskap uit sekere sektore oor die ekologiese en erfenisimpak van hierdie beplande prospektering en mynbouaktiwiteit wat in die toekoms hieruit kan spruit.

Volgens die voorsitter van Heritage Potchefstroom Erfenis, Johan Wolfaardt, is daar geen aanduiding dat daar ‘n erfenis impakstudie gedoen is nie.
“Heritage Potchefstroom Erfenis is as belangstellende party geregistreer. Ons het vir die erfenis impakstudie aangevra, maar nog niks ontvang nie. Die erfeniswet vereis dat ‘n impakstudie gedoen word.”

Volgens Wolfaardt is die plaas by Gerhard Minnebron deel van die historiese Pionier-tydperk, asook deel van die Slag van Frederikstad, terwyl die terrein ook een van drie swart konsentrasiekampe in Potchefstroom insluit.

“As daar mynbou plaasvind sal daar ‘n groot gedeelte van die historiese erfenis verlore gaan. Ons weet nie watter argeologiese reste daar kan wees nie. Daar kan Tshwana, Khoisan en ander belangrike artefakte wees,” voer hy verder aan.

Volgens Wolfaardt kan enige mynbouaktiwiteite ook veroorsaak dat grafte beskadig kan word en dat enige geskiedkundige waarde op die terrein tot niet sal gaan.
“Volgens die erfeniswet moet daar juis klem op situasies rakende die ‘struggle’ gelê word. Swart Afrika konsentrasiekampe val dan juis in hierdie kategorie.”

Watts het ook genoem dat hy ‘n e-pos van Wolfaardt ontvang het en dat hy enige bekommernisse direk met hom kan bespreek.

“’n Erfenisimpakstudie is nie gedoen nie weens die nie-indringende (dit wil sê geen boor, slootgrawe of grootmaat monsterneming) aard van die prospekteerreg-aansoek,” staaf Watts.
Die VF Plus se provinsiale leier in Noordwes, Michal Groenewald, noem in ‘n persverklaring dat die VF Plus as ‘n geaffekteerde party geregistreer is.

“Die Departement van Waterwese het eers Woensdag, 22 Junie kennis geneem hiervan. Gerhard Minnebron is ‘n natuurlike oog en enige mynaktiwiteite kan groot ekologiese skade veroorsaak en ook die kwaliteit van water affekteer,” noem hy.

Gerhard Minnebron verskaf sowat 73% van Potchefstroom se vars water en is die grootste natuurlike waterbron van sy soort in die suidelike halfrond.
‘n Groot deel van die plaaslike landbou-gemeenskap is ook afhanklik van water uit hierdie standhoudende bron.
Die publiek kan hulle bekommernisse en insette oor hierdie projek aan mnr. Sibongiseni Siwendu stuur met die verwysing “NW Potch Goldfield”. Dit kan per e-pos of telefonies geskied by environmental@imbokodoservices.co.za of 010 141 0234.

Hier is ook ‘n skakel na die webtuiste rakende al die dokumentasie: https://www.imbokodoservices.co.za/public-documents/

Related Articles

Back to top button