NewsNews

Die Dolco-storie gebou om Parys en sy mense

Of dit vir ’n gloeilamp is, kontrakteurs wat kom soek na ligte, of boere wat vra vir tegniese raad - jy kan seker wees van net die beste diens en advies wat die afgelope 24 jaar deel is van dié familie-onderneming.

Stap jy in by die vertoonlokaal van Dolco Elektries in Buitenstraat, val die stylvolheid daarvan jou dadelik op. Van praktiese lampe tot duursame ligte, en ’n blinkrooi Karmann Ghia spoggerig in die middel van die vertoonvloer vir ’n bietjie ekstra swier.
Hier word kliënte hartlik verwelkom, en daar is kundige raad om seker te maak jy kry die beste produk vir jou behoefte – want vir die Killian-familie was Parys en sy mense oor die afgelope 24 jaar die kern waarom dienslewering by Dolco Elektries draai.
Die storie van Dolco begin sover terug as 1969 toe Peter Killian van Virginia na Parys verhuis het. Dit is hier waar hy sy elektrisiënsopleiding aan die Vaaldriehoekse Technikon en vakleerlingskap by Sasol voltooi het, en waar hy en Poppie ook getroud is. Dit is hier waar hul vier kinders gebore is, en waar die egpaar steeds gevestig is.
Die kundigheid waarmee kliënte hier by Dolco Elektries gehelp word, het juis sy oorsprong uit Peter se jarelange betrokkenheid by elektriese konstruksie by menige onderneming in Parys.
As elektrisiën was hy betrokke by die aanbouings by die laer- en hoërskool, die skoolkoshuis, Najaarsrus, Amot, Parys-hospitaal, die Palm Court-sentrum, Choppies, Absa toe dit nog destyds Volkskas was, die provinsiale lisensie- en toetssentrum en vele ondernemings in Middelstraat.
Soos wat die jare aangestap en die familie gegroei het, het Dolco gegroei met elkeen van die gesin wat ’n unieke bydrae tot die onderneming kon lewer.
In 1998 het ’n groot klemverskuiwing gekom toe daar ook begin is met verskaffing van elektriese benodigdhede aan die publiek, danksy die inisiatief van die Killians se tweede oudste seun, Kenny.
Toe Kenny voltyds gaan studeer het, het die egpaar se jongste seun, Peter, sy kundigheid by Dolco gevoeg, en kon ook Poppie meer betrokke wees toe die kinders uit die huis is, met hulp agter die toonbank, op die rekenaar en met die admin.
Maar die groot hoogtepunt in Dolco se 24-jarige bestaan het gekom toe daar uiteindelik op 30 Junie 2012 geskuif is na die huidige Dolco-perseel in Buitenstraat.
Weer het die hele gesin saam gedroom, en is lank beplan aan die spog gebou en vertoonlokaal saam met die argitekte.

Peter en Poppie Killian in die spog vertoonlokaal van Dolco Elektries in Parys.

Peter Jr het gesorg vir die fyn detail in die vertoonlokaal, en pas die estetiese van die gebou in by die omgewing.
Sedert Peter Jr se vrou, Valerie, ook voltyds deel is van die span en die boekhouding behartig, vul sy en Peter mekaar aan om dié onderneming met geoliede wiele te laat loop met ’n glimlag wat jou verwelkom wanneer jy hier instap in die winkel wat herinner aan die styl wat jy sien in stedelike ontwikkelings, maar met die hartlikheid so eie aan die platteland.
Dit is daarom nie verbasend dat kliënte van sover as Kroonstad, Viljoenskroon, Koppies en Vredefort ry om hier gehelp te word – óf dit vir ’n gloeilamp is, kontrakteurs wat kom soek na ligte, of boere wat vra vir tegniese raad – jy kan seker wees van net die beste diens en advies wat die afgelope 24 jaar deel is van dié familie-onderneming.

Related Articles

Back to top button