News

Klein begin, groot verskil om sypaadjies en omgewing skoon te hou

Met die dorp wat sukkel om sypaadjies, parke en oop erwe skoon te hou, die enorme probleme by die dorp se vullisstortingsterrein, en die groot hoeveelheid plastiek en ander vullis wat ons riviere besoedel, is projekte soos hierdie merkwaardige voorbeelde van hoe inwoners self ‘n verskil maak vir ‘n skoner dorp en omgewing.

Inwoners van ‘n meenthuiskompleks in St Janstraat het twee jaar gelede besluit hulle maak plan met die gemors op hul sypaadjie op vullisverwyderingsdae. Telkens wanneer vullissakke op dié dae in die metaalhouer voor die kompleks geplaas is, het herwinnaars verbygekom en die inhoud van die sakke uitgegooi om dan die sakke te gebruik vir die herwinbare materiaal wat hulle versamel.
Die gevolg was dan dat die vullis nie deur die vullisverwyderingspan verwyder is nie, omdat dit nie in sakke was nie.
Frikkie Beukes, voorsitter van die Andanté-meenthuiskompleks, vertel dat die kompleks se inwoners toe self begin het om hul vullis te sorteer sodat die vullis wat op verwyderingsdae uitgesit word, minder sal wees.

Die resultaat was verstommend!
Frikkie se seun het drie metaaldromme vir die kompleks geskenk waarin al die inwoners van die kompleks nou hul glas, plastiek en metaal in die onderskeie dromme kan plaas. Die dromme word gereeld leeggemaak en die inhoud gegee aan hulle wat ‘n lewe maak uit herwinning.

Ook in ander woonbuurte hoor jy hoe gesukkel word met gemors op sypaadjies, en heelwat beweging in die strate op vullisverwyderingsdae wat weer misdaadbekamping bemoeilik, veral waar sakke soms dae voordat dit verwyder word, al op straat lê.
Maar dit is nie net Andanté se inwoners wat bewys het dat hul herwinningsprojek in die kleine suksesvol is nie.
Bejaardes van Sally Martin Park het in 2018 op inisiatief van die bestuur van Sally Martin Park, hul eie herwinningsprojek begin. Die doel was om ‘n verskil in die gemeenskap te maak en hul morele plig na te kom vir ’n skoner omgewing, is destyds gesê.
Sally Martin Park het tans tien herwinningspunte met vier herwinningsdromme by elke punt.
Die dromme is duidelik gemerk vir papier en karton, blik, glas, en plastiek, en is op strategiese punte op die terrein geplaas.
Sodoende word ook hier ‘n groot hoeveelheid vullis weggevat wat die vullis wat uiteindelik na die stortingsterrein geneem moet word, minder maak.

 

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button