NewsNews

Die Riemland groet sy ‘aangenome dogter’

Marita Blom was vir sowat 10 jaar kampvegter en nasionale bemarker van die Riemland, ‘n gebied wat vanaf die Vaalrivier by Sasolburg suidwaarts oor die noordoostelike Vrystaat strek.

Die afskeid in Sasolburg was ‘n blomryke viering van die lewe van dié uitsonderlike vrou, wat ‘n burgemeesterskantoor met dieselfde passie as haar eie huishouding kon bestuur, wat enige oop stuk grond in ‘n paradystuin kon omskep en net so maklik ‘n blomtuin in haar geliefdes en vriende se harte kon maak.

Marita is op 1 Januarie 1948 in Roodepoort gebore en het in die 1970’s na die Vaaldriehoek verhuis, waar sy onder andere ‘n tyd lank as verslaggewer by Vaalweekblad gewerk het. In later jare was sy bibliotekaresse en het daarna ‘n pos in Sasolburg se stadsraadskantore aanvaar, waar sy mettertyd sekretaresse van oudburgemeester dr. Sakkie de Villiers geword het.

Dit is egter as skakel- en toerismebeampte vir die Noord-Vrystaatse Distriksraad waar sy besonder diep spore getrap het. Sy was vir sowat 10 jaar kampvegter en nasionale bemarker van die Riemland, ‘n gebied wat vanaf die Vaalrivier by Sasolburg suidwaarts oor ‘n groot deel van die noordoostelike Vrystaat strek. Hoewel sy nie hier gebore is nie, het die Riemland se mense, die blou lug en goudbruin grasvelde so diep in haar hart ingekruip dat sy die Riemland dikwels as haar “aangenome heimat” beskryf het.

Gedurende die jare wat sy in die Noord-Vrystaatse Distriksraad gedien het, was sy soos ‘n ma vir baie van haar jong kollegas. Sy het ‘n fyn oog gehad om jong mense met potensiaal te identifiseer en het hulle bygestaan om tot amptenare met sterk werksetiek en integriteit te help ontwikkel.

Marita het ‘n paar jaar gelede na Kaapstad verhuis, waar sy op 19 Mei vanjaar oorlede is.

“Sy was lief vir die teater, reis, lees en musiek, en veral ook om haar kleinkinders te bederf,” sê haar dogter, Karien Robertson.

Haar ander dogter, Rencia Van Wyk, som haar só op: “My ma was die prefekte versnit van trotse dame en nederige mens. Trots wanneer dit kom by haar kinders, kleinkinders en haar loopbaan, en nederig wanneer dit kom by haarself. Sy het ons immers van kleins af geleer dat mens nie beter is as ander mense op grond van jou straatadres of velkleur nie.”

Marita word buiten Karien en Rencia ook oorleef deur haar seun, Johan Blom, haar skoonkinders en sewe kleinkinders.

 

Wyle mev. Marita Blom.

 

 

 

 

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button