NewsNews

Nuwe gesondheidskliniek open sy deure vir pasiënte

Die bestaande kliniek by die munisipale kantore was Woensdag, 15 Junie die laaste keer operasioneel wees.

 

Die jarelange droom van ‘n groter, doeltreffender gesondheidskliniek vir Parys word uiteindelik ‘n werklikheid. Die nuwe kliniek in Buitenstraat (agter die rolbalbaan en oorkant Dolco Elektries), open Maandag, 20 Junie.
Die bestaande kliniek by die munisipale kantore was Woensdag, 15 Junie die laaste keer operasioneel en sal nou gesluit wees vir die verskuiwing van personeel en toerusting na die nuwe kliniekgebou. ‘n Mobiele kliniek sal Vrydag, 17 Junie van 09:00 tot 15:00 nog op die ou kliniekperseel beskikbaar wees, maar slegs vir die hantering van noodgevalle en die afhaal van chroniese medikasie.
Pasiënte moet daarop let dat die nuwe kliniekgebou eers Maandag, 20 Junie open en dat volledige kliniekdienste deur departement gesondheid dan hier van Maandae tot Vrydae tussen 07:30 en 16:00 gelewer sal word.
Die amptelike opening van die nuwe kliniekgebou vind Dinsdag, 21 Junie plaas wanneer Sasol die kliniekgebou aan die Ngwathe munisipaliteit oorhandig, wat dit weer op hul beurt aan die provinsiale gesondheidsdepartement sal oorhandig. Daarmee saam word vier noodreaksievoertuie ook deur Sasol by die geleentheid aan die Ngwathe-munisipaliteit oorhandig.
Ná afloop van die amptelike openingsgeleentheid Dinsdag sal daar plaaslik momentum gegee word aan die Taking Primary Health Care to the People-veldtog by die oop veld langs Phehellang skool in Tumahole. Die doel van die veldtog is om kliniekdienste na gemeenskappe te bring en sal ‘n mobiele kliniekdiens die dag van 09:00-15:00 hier gelewer word, en geleentheid wees vir mense om hul hier teen Covid-19 te laat inent.
Kliniekgebou enig in sy soort in Fezile Dabi:
Die nuwe kliniek vir Parys is teen ‘n koste van R12,5 miljoen gebou. Hierdie goedtoegeruste primêre gesondheidsorgkliniek en apteek onder een dak is enig in sy soort in die Fezile Dabi-distrik.
Die kliniek sal bekend staan ​​as die Parys Town Clinic. Sasol Mining het die kliniek gebou en befonds terwyl die Ngwathe-munisipaliteit die grond beskikbaar gestel het.
Wat die kliniek uniek maak, is dat die vloerplan volgens die sogenaamde “ideale kliniek”-model uitgelê is. Dit verseker pasiëntvloei met die kernfokusareas op chroniese siektes, moeder- en kindergesondheid en akute dienste.
Dit bied ook farmaseutiese dienste, tandheelkunde, dieetkunde en rehabilitasiedienste.
In die verlede het die departement van openbare werke klinieke gebou volgens ‘n standaardmodel waarvan die uitleg nie ideaal was vir pasiëntdiens nie.
Sasol se argitekte het gehelp om die bouplanne vir die nuwe kliniek binne die beperkings van die bouperseel en begroting te teken, in oorleg met die gesondheidsdepartement en senior bestuur van die Fezile Dabi-distriksgesondheidskantoor.
Die totale vloeroppervlakte van die kliniek is 730 m² op ‘n perseel van 2 700 m².
Daar is nie net ‘n baie groter wagarea nie, maar daar is ook verskeie spreekkamers vir die dokter, tandarts en besoekende terapeute – elk met ‘n wagkamer. Die badkamers is baba- en rolstoelvriendelik.

Mamelo Makgoe, waarnemende operasionele bestuurder van die Parys dorpskliniek, voor die splinternuwe Parys kliniekgebou, wat enig in sy soort is in die Fezile Dabi-distrik.

Daar is voorsiening gemaak vir ‘n noodkamer vir ambulanspersoneel wat pasiënte van die kliniek na die hospitaal moet vervoer.
Daar is ook voldoende goedbeplande spasie waar pasiënte by twee dienspunte moet aanmeld en hul lêers ontvang, en ‘n rekordkamer. Die kliniekbestuurder se kantoor is sentraal geleë en daar is ‘n interkomstelsel om pasiënte te roep. Daar is selfs voorsiening gemaak vir krag- en watertoevoer sodat dienslewering nie onderbreek sal word nie.
Anders as die huidige kliniekopset, is die apteek nou in die kliniekgebou sodat wanneer pasiënte hul konsultasie voltooi het, hulle hul medikasie by die dienstoonbank kan kry en uitbeweeg. Daar sal 24 uur-sekuriteit op die perseel wees, en voorsiening vir mediese en chemiese afvalverwydering volgens wetlike vereistes.
Dienslewering deur klinieke:
Benewens primêre gesondheidsorg en hospitaalverwysings, bied klinieke ‘n waardevolle voorkomings- en bewusmakingsdiens.
Gebaseer op statistieke van 2017/18, beweeg na raming 17 786 mense jaarliks ​​deur die Parys-kliniek. Dit beteken gemiddeld 1 314 mense gebruik elke maand die Parys-kliniek se dienste.
Die deel van die munisipale gebou waar die Parys-kliniek tot nou geleë is, was vroeër die munisipale kliniek.
Die Departement van Gesondheid het dit later as die primêre gesondheidsorgkliniek gebruik.
Beperkte spasie, erge krake in die mure, knaende water- en elektrisiteitsprobleme en ‘n apteek wat te klein en ver van die kliniek was, het die huidige gebou egter ‘n nagmerrie vir personeel en pasiënte gemaak wat administratiewe take en pasiëntediens betref.

Related Articles

Back to top button