NewsNews

Breikuns al vir eeue gevier

Vandag word geglo dat handelaars van Spanje die breikuns na Afrika gebring het.

Saterdag, 11 Junie is breikuns oor die wêreld heen gevier. Ook bejaardes van die Sonskyn Tehuis in Parys het die oggend saam in die wintersonnetjie sit en brei, en is daar al by verskeie geleenthede in die Gazette erkenning gegee aan dié handwerk waarmee dikwels ook uitgereik word na hulle in nood.
Só brei die bejaardes van Sally Martin Park jaar in en jaar uit aan die mooiste truie en komberse vir kinders in nood. Dié bejaardes het selfs vroeër vanjaar die breinaalde aan die wikkel gehad om vir elkeen van die 72 inwoners van Epilepsie SA se Vrystaat/Noordwes-sentrum in Parys ‘n mussie vir die winter te kon brei.
Onlangs is letterlik van oral oor gebreide blokke ontvang van mense wat gereageer het op ‘n berig waarin vertel is van ‘n projek wat deur die onderneming, Anna Patat, in Parys se hoofstraat, in samewerking met die NG gemeente Parys-Wes aangepak is om komberse vir bejaardes van die Amot Tehuis in Parys te kon maak. Al die gebreide en gehekelde blokke wat ontvang is, is aanmekaar gewerk vir die komberse.
‘n Wonderlike manier hoe daar ook met hierdie vaardigheid ‘n verskil gemaak word.

Maar waar het die breikuns nou eintlik begin, sal jy vra?
Breiwerk, veral as handwerk, kom ‘n ver pad. In ‘n skildery van die Noord-Duitse meester Bertram wat voor 1350 gebore is, sien jy al die Maria-figuur waar sy met vier penne brei.
Artefakte wat gevind is van nomadiese stamme van Noord-Afrika, het ook oorblyfsels bevat van kouse wat na raming ongeveer 300v.C gebrei is.
In Noorweë is daar ‘n vorm van breiwerk gevind wat uit die Wiking-tyd dateer. Die vermoede is dat dié breiwerk op rame gedoen is.
Handbreiwerk soos ons dit vandag ken stem ooreen met breiwerk wat in Peru ontdek is, en wat klaarblyklik toe al met naalde gedoen is.
Vandag word geglo dat handelaars van Spanje die breikuns na Afrika gebring het.
Elke land het oor verloop van tyd sy eie breistyl ontwikkel. In Brittanje het die breikuns gedurende die middeleeue sy loop geneem en het die Britte veral kouse gebrei. Die wol is deur die vroue gespin en die mans het gebrei. Daardie jare het vakmansgildes ‘n redelike bestaan kon voer met die kouse wat gebrei is, maar handbreiers kon toe nog net gemiddeld twee paar kouse per week brei.
William Lee het in 1589 ‘n masjien ontwerp wat naatkouse kon brei.

Related Articles

Back to top button