NewsNews

Totiushuis: ‘n Skat in ons midde

Totius en sy gesin het die huis vanaf 1911 tot 1924 bewoon en hier het minstens vier van sy digbundels hul ontstaan gehad

Danell de Wet is die kurator van die museum wat ons vergesel en by wyse van vertellings en staaltjies ‘n boeiende kykie gegee het op die lewenswyse van die Du Toit gesin meer as ‘n eeu gelede. Byna al die meubels, gebruiksartikels, boeke en portrette is deur die familie byeengebring, gerestoureer en vir die uitstalling beskikbaar gestel.

Jacob Daniël du Toit het in 1896 as teologiese student by Burgersdorp ingeskryf waar hy aan die huis van prof. Dirk Postma se weduwee, Aletta Postma, loseer het. Dit is hier waar hy ‘n jong Marie Postma ontmoet het wat later sy steunpilaar en lewensmaat sou word.

Kort na hul verlowing in 1899 het die Tweede Vryheidsoorlog uitgebreek en studeer Totius in Teologie aan die Vrije Universiteit van Amsterdam. In 1903 word Totius en Marie se huwelik in Nylstroom bevestig. ‘n Susterskind, Ida Bosman, wat dikwels by hulle aan huis gekuier het, noem die hegte liefdevolle verhouding tussen die eggenote wat haar as jong dogter opgeval het.
“Ons moet hom nooit sonder haar sien nie. Ook sy het gedien sodat ‘n swaarbeproefde volk troos en krag in hulle eie taal kon vind.”

Danell de Wet, kurator.

Totius en sy gesin het die huis vanaf 1911 tot 1924 bewoon en hier het minstens vier van sy digbundels hul ontstaan gehad.

Hier het hy ook met die Afrikaanse Bybelvertaling begin, ‘n taak wat hy in hul eenvoudige plaashuis by Krugerskraal voortgesit het.

Die afsterwe van twee van die egpaar se kinders, Francois en Wilhelmina, word duidelik verwoord in die gedig,

Die Aandete ….. ‘n gedig oor die groot-makeer.
“Trane en brood.
‘n Diepe geswyg.
En twee wat makeer….”
Op 29 Junie 1953 skryf hy sy laaste gedig, “Lei my langs stille waters…” Die volgende dag skryf hy agter in sy Psalmboek: “Daar sal geen doodsvrees wees nie.”
Wat ‘n voorreg om die woning van hierdie beskeie, briljante digter te kon besoek!

Related Articles

Back to top button