News

Het my kind ‘n leer/leesprobleem of dalk net swak visie?

Laat toets jou kind se oë by ‘n praktyk wat spesialiseer in pediatriese oogtoetse – veral as jou mediese fonds daardie oogtoets dek.

Erika: As Arbeidsterapeut het ek al té veel kere verwysings gekry vir leer-/leesprobleme wat op die ou end eintlik visie probleme was wat té laat opgetel is. ’n Paar jaar gelede is ‘n kind verwys vir ‘n Arbeidsterapie evaluasie vir plasing in spesiale onderwys. Nadat Annemarie gehelp het met ‘n deeglike kindervisie evaluasie, het ons agtergekom dat die kind baie min visie in sy een ogie het. Na die korrekte behandeling is die kind vandag, jare later, akademies steeds in hoofstroom onderrig. Die kind is ongelukkig nie die uitsondering op die reël nie.
Ons voel ons wil ouers en onderwysers help om kindervisie beter te verstaan om ons te help om hierdie groterwordende probleem reg aan te spreek.

Visie en visuele persepsie

Annemarie: Visuele persepsie is wat die oog sien, hoe die brein die inligting interpreteer, en hoe die brein dan weer daardie inligting teruggee. Dit sluit vaardighede in soos onderskeid tussen lettertjies soos e & c, b & d & p; visuele geheue, ens ens. Goeie visie is die noodsaaklike bousteen vir goeie visuele persepsie. En visuele persepsie is weer ‘n noodsaaklik bousteen vir leer en speel.
Die algemeenste visie probleme is bysiendheid en versiendheid.
‘n Bysiende (miopiese) persoon sukkel om ver te sien. Daar is niks wat die oog kan doen om te “kompenseer” vir bysiendheid nie (behalwe om oë skrefies te trek).
Versiendheid (hiperopie) is nie so eenvoudig soos bysiendheid nie. Versiende mense kan redelik goed ver sien, maar hoe meer versiende jy is, hoe moeilker sien jy ORALS (ver en naby). Die lens binne-in die oog word deur spiertjies beheer wat dit laat fokus of akkommodeer. Normaalweg is die lens ontspanne wanneer jy ver kyk en saamgetrek vir naby. ’n Versiende persoon se lens moet saamtrek om ver te kan fokus en dus moet die lens besonder baie saamtrek om naby te fokus wat nie altyd moontlik of volhoubaar is nie. Die spiere wat die lens beheer, kan net tot op ’n sekere punt fokus en word net soos enige ander spier moeg wanneer dit die hele tyd ingespan moet bly. Dus sal die versiende kind aanvanklik heel gemaklik fokus, maar soos tyd verloop word fokus al hoe moeiliker. Die ouers van ’n versiende kind sal gewoonlik sê ‘ maar my kind kan orals sien!!.’ … maar die vraag is – kan die kind duidelike visie volhou oor tyd? ’n Kind se lens is geweldig aktief en kan sommer baie effektief fokus vir kort tye– dus kan ‘n kind se oog tot ‘n groot mate “tydelik kompenseer” indien hul versiende is. As die spiere moeg word, begin die probleme ongelukkig. Dis nie net belangrik om duidelik te kan sien nie, ‘n kind moet vir lang tye duidelik kan sien.
Wat is tipiese tekens van versiendheid?
Dis baie keer die kind wat slegs ‘n kort rukkie kan stil sit en werk doen en dan sal begin kriewelrig raak en verkies om eerder buite te gaan speel. Gereelde hoofpyn kan ook ’n teken wees. Dis ook die kind wat glad nie lief is vir lees nie en eerder uitblink in sport. Vele kere word so ‘n kind as ADHD geklassifiseer, voor daar werklik ordentlik na die visuele sisteem in diepte gekyk is.
Wat is dubbelvisie? En wat gebeur as dit nie opgetel en aangespreek word nie?
Wanneer’n mens naby moet fokus gebeur 3 dinge- die lens in elke oog trek saam sodat elke oog ’n duidelike beeld sien, die oogspiere draai die oë na mekaar (konvergensie) sodat mens net een beeld sien, en die pupille verklein. Die brein is dan in staat om die twee beelde (1 vanaf elke oog) op mekaar te plaas. Indien die oogspiere nie sterk genoeg is nie, sal die kind begin dubbel sien en dus alhoewel elke oog dalk duidelik sien, nie naby werk kan volhou nie. Weereens kan dit vir ’n onderwyser of ouer lyk asof die kind ’n konsentrasie probleem het, terwyl dit eintlik ’n visieprobleem is.
Hoekom visie probleme dikwels eers opgetel word as ek (Erika) my terapie kinders verwys vir ’n tweede opinie? En hoe gereeld gebeur dit?
Dit neem tyd, ervaring, vaardigheid asook goeie toerusting om ‘n kind se oë deeglik te toets. Aangesien die lens van ‘n kind se oog geweldig aktief is, kan ‘n kind vir kort tye (soos tydens ‘n vinnige/oorsigtelike oogtoets) sterk akkommodeer/fokus. Veral versiende kinders glip gereeld deur die sisteem en sodoende word die kind of glad nie gehelp nie of met ’n té swak of verkeerde bril gehelp.
Net in díe laaste maand alleen het ons 4 sulke gevalle in die praktyk gesien waar kinders reeds vir ’n oogtoets was, en daar geen oogfout gevind is nie, maar met meer intensiewe toetse identifiseer ons wel groot hoeveelhede latente hiperopie.
Wat gebruik julle in julle praktyk om kindervisie te evalueer? En hoe lank neem só toetsing?
Annemarie: Ons is’n span van 3 oogkundiges. ’n Kindervisietoets duur 30-60 minute afhangend van die kind se ouderdom en aandagspan. Ons toets kinders van die ouderdom van 4 jaar af. Jonger kinders word deur ’n oftalmoloog ge-evalueer, soms onder narkose. Ons kombineer subjektiewe en objektiewe toetse en doen ook ’n sonar van die kind se oë ingesluit by die ondersoek. Indien ons sien die kind is allergies en met ondervraging agterkom dat hy sy oë vryf, doen ons ook ’n topografie van die kornea om vroeë keratokonus te kan identifiseer. Dis van kardinale belang dat kinders nie hulle oë moet vryf nie. Indien die kind se oë jeuk, moet die korrekte oogdruppels voorgeskryf word. Vryf van oë kan lei tot verdunning en vervorming van die kornea. Min praktyke is toegerus met ’n so-narmasjien en ’n topograaf. Beide is hoogs gespesialiseerde en duur toerusting.
Wat is ‘n sikloplegiese oogtoets en hoekom gebruik julle dit so baie as jul kindervisie evalueer?
Annemarie: Wanneer ons tydens ‘n oogtoets sien ‘n kind is potensiëel baie versiende, stel ons aan die ouers voor dat ons ‘n spesiale toets met die hulp van oogdruppels doen. Die oogdruppels ‘verlam’ die lensspiere vir ’n paar uur sodat ons die volle oogfout van die kind kan bepaal. Ek kan nie die belangrikheid van ’n sikloplegiese toets vir kinders oorbeklemtoon nie. Soveel kinders se lewens word positief verander as die korrekte bril voorgeskryf word.

Sal ‘n bril my kind se oë swakker maak?
Dit is regtig van kardinale belang dat kinders wel die regte krag bril moet dra. Baie ouers wonder of dit nie hulle kind se oë swakker sal maak as hulle eie ‘lens’ nie meer so baie hoef te fokus nie. Met die korrekte bril gaan die kind se lens steeds die ‘normale’ hoeveelheid fokus. Versiendheid word ook gewoonlik minder soos ’n kind ouer word. Daar lê beslis net voordeel daarin om die versiende kind die korrekte bril te gee nl. dat die kind baie beter sal vaar in enige naby-fokus aktiwiteit soos lees en leer en vir langer tye sal kan stil sit en konsentreer. Die korrekte voorskrif bril of kontaklense kan jou kind se lewe en toekoms ten goede verander.
Wat van die bysiende kind?
Bysiendheid kan oorerflik wees, so as jy baie bysiende is, moet mens vroeg al na jou kinders laat kyk. Indien ’n kind -0.5 diopter of meer bysiende word per jaar, beveel ons bysiendheidbeheerlense aan. Ons het twee opsies beskikbaar nl. Ortho-K waar die kind met ’n kontaklens slaap en in die dag niks dra nie, maar perfek kan sien. Die kornea word in die nag so gevorm dat dit die visie korrigeer, en ook bysiende progressie beperk, en ook gespesialiseerde brillense om bysiendheid te beheer.
Hoe gereeld behoort kinders se oë getoets te word?
Jaarliks is altyd die beste, maar indien nie moontlik nie behoort kinders ten minste elke 2de jaar te kom vir ’n volledige oogtoets. Indien ons sien dat daar wel ’n probleem is, sal ons meer gereelde toetse aanbeveel.
Berei jou kind reg voor vir ’n oogtoets. Moet nooit ’n kind bang maak vir enige medici of stories opmaak dat ’n dokter of oogkundige hul gaan seer maak nie! Dis moeiliker om met ’n gespanne of bang kind te werk. Kinders geniet ñ oogtoets gewoonlik sommer baie. Ons is self mammas en weet hoe om met kinders te werk. Die rol van die ouer is om die kind reg voor te berei en indien die kind stout is tydens die toets, te dissiplineer. Ons sal seker maak dat hulle die toets geniet en gee ’n geskenkie vir kinders na ’n toets.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button